Tshwane chaos ’n spieëlbeeld van Middelburg verwoesting
Die Tshwane staking is ’n spieëlbeeld van die verlammende stakings in Middelburg, en soos die Middelburg staking, dring die Tshwane staking nou sy agtste week binne, met infrastruktuur wat beskadig word, en vullis wat die hele stad vol lê.
Die Tshwane raad het verlede week ’n permanente interdik teen die stakers by die arbeidshof bekom nadat munisipale voertuie, soos in Middelburg, onder meer aan die brand gesteek is.
Die interdik is bekom nadat die bedingingsraad die stad se aansoek om kwytgeskeld te word van ’n loonooreenkoms wat in September 2021 tussen partye onderteken is, te bekragtig.
Munisipale werkers dring aan op ’n 5.4% verhoging, met die bedingingsraad se kommissaris Eleanor Hambidge wat die munisipaliteit aangesê het om die miljoene in verhogings goed te keur.
Tot hede is 123 munisipale werkers reeds afgedank weens hul betrokkenheid by die onwettige staking.
In Middelburg het die staking tot die skietdood van Tshepo Maseko gelei, terwyl Samwu sê dat daar ook op Tshwane werkers geskiet is.

Veral busdienste is in Tshwane geteiken en tot stilstand gedwing sedert die staking in Julie begin het.
Vier dae gelede is busdienste weer gestaak weens die chaos.
In Middelburg het die eerste van ’n string stakings meer as twee maande volgehou.
Werkers hier het ’n vlak 5 salarisverhoging geëis, wat intussen goedgekeur is deur die raad.
Plaaslik is munisipale werkers volle salarisse tydens die stakings betaal.
Die regskenner André Brandmuller wag egter om te hoor hoe die munisipaliteit inwoners tegemoet gaan kom met krediete op veral vullisverwydering.
Hy versoek verdere verligting van die hof, maar sê dat die hof die meriete, en gevolglik die verligting, moet bepaal.
Mnr. Brandmuller het self tydens die stakings ook ’n interdik bekom, met die ondersteuning van SG Coal.
Die polisie het egter nog die munisipale interdik, nog mnr. Brandmuller s’n gehoorsaam en gereeld bloot staan en toekyk hoe munisipale werkers die dorp op sy kop keer.
Veiligheidsgroepe het later kontrakteurs beskerming gebied, nadat verskeie aangerand en hul voertuie tydens die stakings beskadig is.
Mnr. Brandmuller meen landwye staking raak al meer wetteloos.
Dis onduidelik wat tans aan die gebeur is in die Tshwane raad met betrekking tot onderhandelinge met stakers, hoewel Samwu sê dar die unie werkers ondersteun en by hulle staan.
