News

Voortvlugtende dief gooi agtervolger met bottel in gesig

'n Verdagte wat moontlik positief verbind word met talle inbrake en diefstalle, is Donderdag vasgetrek.

Bennie Lee (sekuriteitsbestuurder, Titon Sekuriteit) het vertel hoe hy met samewerking van die besigheid se eienaar en ’n verkeersman die verdagte vasgetrek het.

“Nadat ons hom gevang het, het, het ’n ander sakeman gemeld dat hy ook positief verbind word met inbrake by hul besigheid, asook inbrake by voertuie in Eastdene.”

Hy meld dat daar die afgelope tyd al ’n paar inbrake was by hul kliënt, Lube Masters, in Literstraat.
Net in die afgelope paar weke alleen is verskeie batterye uit masjinerie gesteel.

Woensdagaand is daar ook ’n battery uit ’n kragopwekker gesteel.

Bennie het in sy ondersoek gevind dat die diefstalle plaasgevind het tussen 16:00 en 18:00. Die besigheid sluit om 16:00 en om 18:00 kom die nagwag van Titon in, wat beteken dat die booswig elke keer in die tyd wat daar nie ’n wag was nie, sy kans waargeneem het.

Donderdag is Bennie na die besigheid langsaan, Build World, om die CCTV-videomateriaal na te gaan.
Hy het gesien hoe die dief Woensdag om 17:25 op ’n muur klim, daaarna oor Lube Masters se dak loop en dan later terugkeer met die battery.

Donderdag om 17:30 het hul kliënt hul gebel en gesê hy sit ’n entjie vanaf sy besigheid in sy bakkie en het gesien hoe die boef oor die muur by die perseel inspring. Bennie het hom gemaan om nie in te gaan nie, maar vir hom te wag.

Met sy aankoms op die perseel het hulle gesien dat die booswig reeds twee vensters gebreek het om te probeer inkom by die werkswinkel. Die dief het egter gehoor toe hulle die deure oopsluit en het laat spaander.

Bennie het agterom gehardloop en die kliënt voor om die perseel, waar die dief in hom vas gespring het. Die dief het egter bakstene opgetel en na die kliënt geslinger en hy moes uit die pad spring.

Bennie en die kliënt is agter die dief aan en op ’n stadium het die kliënt ’n entjie voor Bennie gehardloop. Die verdagte het weer omgespring en dié keer ’n bottel na die kliënt gegooi. Hy is vol in die gesig getref en het geval.

Bennie is agter die boef aan, wat op daardie stadium al oor die Hendrinapad gehardloop het in die rigting van Hlalalamnandi.
Op hierdie tydstip het Bennie ’n verkeersman in die omgewing gesien en gevra vir hulp.

Die verkeersman het gesien waarheen die booswig hardloop en is ook agter hom aan, waar hy hom in ’n erf by ’n huis vasgetrek en aan Bennie oorhandig het.
Tydens ondervraging het die verdagte aan Bennie erken dat dit hy was wat die batterye gesteel en die vorige kere ook ingebreek het.

• Njabulo Mkhondo het Vrydag in die hof verskyn in verband met die misdade. Hy is steeds in aanhouding en sal Donderdag verskyn vir ’n formele borgaansoek.

 
Back to top button