News

Tenk maak jou kwaad én emosioneel

“Tenk” maak jou die moer in én emosioneel.

Verskoon die taalgebruik maar in die “army” word daar veel erger kraswoorde gebruik.

En hierdie boek gaan oor die “army”.
Spesifiek oor Operasie Modulêr in Angola.

Daar is die afgelope tyd talle boeke geskryf oor die konflik in Suidwes-Afrika (Namibië).
Dikwels gaan dit oor die regverdiging, aldan nie, van Suid-Afrika se betrokkenheid by die stryd.

Van “terroriste” teenoor “vryheidsvegters”.
Van “helde“ wat “skurke” geword het en “skurke” wat “helde” geword het.

Alles hang af van jou perspektief of uit watter oogpunt jy die destydse konflik benader.

Natuurlik is die teiken dikwels die “bose” apartheidsregering en die troepe wat die oorlog moes baklei is andermaal in die visier, vir die hoeveelste keer – talle wat nie eers daardie jare in die oorlog wou wees nie, maar deur wetgewing daartoe gedwing is.

Hierdie boek is anders, dit gaan oor mense, oor vlees en bloed.

Dit raak jou aan die hart, maak jou woedend (andermaal) oor besluitnemers in Pretoria wat die “voetsoldate” gedwing het om aksies uit te voer wat soldate se lewe geëis het.
Die Militêre Polisie se diaboliese optrede.

Wat meer is, dit gaan oor Middelburgers, oor 4 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon.

Dalk kan geredeneer word dat Leon Marais nie ’n Middelburger is nie. Hy was wel op ’n tyd; kommandant Leon Marais, bevelvoerder van 4SAI, bevelvoerder van Veggroep Charlie tydens Operasie Modulêr.

Awie Erxleben ’n Middelburger? Ja, predikant in die Witkerk en kapelaan tydens Operasie Modulêr.

Daar is ander, stafsersant Lappies Labuschagne, majoor Joep Joubert, sersant Robbie Robberts…

Wanneer jy die boek eers vat met die konvooi wat uit Middelburg vertrek, op pad na Angola, die noodlottige ongeluk daarheen, die eerste skote wat klap en hoe elkeen daarop reageer, kan jy hom nie neersit nie.

“Tenk” skiet jou plat, laat die emosies in jou kop dwarrel, lank nadat jy die boek gelees het.

Die skrywer is Pieter Stoffberg en Tenk is by boekwinkels beskikbaar.

Toe die skote klap…

“Lappies kom swaar op sy voete en steier verdwaas terug. Spencer het tot op sy knieë gevorder en hou sy vergruisde linkervoorarm met die ander hand vas. Lappies staan vorentoe. Spencer probeer opstaan en gryp na die sersant se hand. Die arm wat hy vasgehou het, val pap met bloed wat uit die elmboog stroom en by sy vingerpunte aftap.

“Lappies gryp hom aan die skouer en pluk hom op sy voete. Met sy ander hand probeer hy die hitteuitstraling van die brandende ambulans van sy gesig af weghou. Die mediese ordonnans op die grond kreun, kyk na die bloed wat steeds uit sy maag oor sy hande stroom, Lappies vat die losswaaiende arm en druk dit in Spencer se sak vir stabiliteit.

“Hardloop, skree hy in Spencer se oor en stoot hom agter die ander medics aan wat op die rivierwal verdwyn het.
“Ek bring vir Redelinghuys.”

Hierdie is ’n uittreksel uit die boek “Tenk” wat pas verskyn het.

Stafsersant Lappies Labuschange sou later vereer word met die honoris crux medalje vir dapperheid.
Vandag is hy afgetree en bly in die Moth-huisies op Middelburg.

Stafsersant Lappies Labuschange is vereer met die honoris crux medalje vir dapperheid. FOTO: Daleen Naude.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button