Dronk man jaag soos besetene met kind in kar
’n Man in ’n Isuzu Frontier met ’n jong kind by hom het Vrydagaand met ’n geweldige spoed op ’n jong man afgejaag om hom van die pad af te druk.

Freek Greyling (26) het vertel hoe hy verskeie kere sy voertuig in trurat moes sit om weg te kom, wanneer die aggressor langs hom inbeweeg, hom van die pad probeer dwing en voor hom gestop het.
Freek is ’n vakleerling by Middelburg Airconditioning & Product Supplies en was Vrydag tot laat besig om te help om die besigheid se toerusting na hul nuwe perseel in Bonckerstraat te skuif.
Hy is eers gou na sy huis in Kanonkop en het daarna, omstreeks 19:45, met die werksvoertuig afgery in Bonckerstraat om in Koetsstraat te draai, op pad na Groenkol om persoonlike artikels van Louis de Larouviere (eienaar, Middelburg Ariconditioning) te gaan aflaai.
By die Koetsstraat verkeerslig het ’n Isuzu Frontier gestaan, agter hom ’n Isuzu bakkie, waarna Freek met die maatskappy bakkie gestop het.
“Die voorste voertuig het baie stadig weg getrek in Koetstraat en die bakkie agter hom verbygesteek.”
Wat daarna gebeur het, kan Freek steeds nie glo nie.
Hy het gesien hoe die Isuzu Frontier skielik vinniger ry en die ander Isuzu begin jaag.
Freek het opgemerk hoe die ander voertuig wegjaag, bo-oor ’n stopstraat en die donker in verdwyn. Die Isuzu Frontier kon hom nie injaag nie.
Teen die tyd wat Freek in Verdoornstraat opgedraai het uit Koetstraat, was die Isuzu Frontier voor hom.
By die verkeerslig op die hoek van Verdoorn- en Cowen Ntulistraat, het die Frontier agteruit begin rol en Freek het besef die voertuig gaan hom stamp.
Hy het die voertuig in trurat gesit en vinnig agteruit gery.
Die Frontier het weggetrek en Freek het besef daar is fout toe die Frontier heen en weer oor die pad swenk.
Nadat hulle oor die kruising gery het, het hy hom verbygesteek, om seker te maak die swenkende voertuig stamp hom nie.
Net daar het die Isuzu Frontier weer spoed vermeerder en Freek begin jaag.
In ’n poging om weg te kom, het Freek regs gedraai in Zuidstraat in, maar die Frontier was kort op sy hakke.
“Hy het langs my inbeweeg en my van die pad af gedwing. As ek nie gestop het nie, sou ek die sypaadjie getref het.”
Die Frontier het voor hom gestop en ’n man het aggressief uitgespring.
Freek wou nie in ’n konfrontasie met die man betrokke raak nie en het weer die bakkie in trurat gesit, agteruit gery en verby die aggressor se voertuig gery.
Die man het teruggespring in sy voertuig en op dieselfde manier nóg twee keer vir Freek van die pad af gedwing.
“In my truspieëltjie het ek gesien dat daar ’n kind op die agterste sitplek sit en geklou het aan die voorste sitplekke terwyl hy so gejaag het.”
Terwyl hy besig was om te probeer wegjaag vir die ander voertuig, het Freek vir Louis gebel en vertel wat gebeur.
Louis het vir hom gesê om te ry na sy huis in Groenkol en het hom ingewag in sy oprit.
Die Isuzu Frontier het ook ingejaag by die oprit en ’n man het uitgespring.
“Hy kon nie op sy voete staan nie, so dronk was hy en ons kon nie alles hoor wat hy sê nie.”
Hulle kon wel uitmaak dat hy kwaad is vir Freek, omdat Freek hom verbygesteek het.
“Ek het hom verbygesteek omdat hy so heen en weer oor die pad gery het!” sê Freek.
Louis het vir die man gesê hulle gaan sy sleutel vat en dat hy moet wag, want hulle gaan die polisie bel.
“My vrou en kinders het ook die kind agter in die voertuig gesien!”
Die man wou egter nie verder na hulle luister nie en het teruggespring in sy voertuig en met rollende bande weggejaag.
Beide Freek en Louis sê hulle is dankbaar dat daar nie ’n ongeluk gebeur het, terwyl die man so buite beheer agter Freek aangejaag en hom afgedruk het van die pad af nie.
Hulle was ook baie bekommerd oor die welstand van die kind, Freek sê dit lyk soos ’n dogtertjie, wat aan die sitplekke moes klou. Hy het gemeld dat sy beslis nie in ’n stoeltjie of vasgemaak in ’n veiligheidsgordel was nie.
• Die Observer het intussen verneem dat die Isuzu Frontier wat agter Freek aangejaag het, geregistreer is in Nelspruit.