Saggeaarde jong vrou sterf in ongeluk met trok
Die saggeaarde Dina Labuschagné “wat ’n hart gehad het vir bejaardes”, is Saterdagmiddag in ’n ongeluk met ’n trok naby die Vyfboogbrug (tussen Emgwenya en Waterval Onder) oorlede.
’n Skokgolf het deur Waterval Boven (Emgwenya) getrek toe inwoners van haar dood verneem.
Sy het die oggend nog ’n stalletjie beman by Aloes Country Inn, langs die N4 by Waterval Onder en was op pad was terug huis toe, toe die ongeluk gebeur het.
Dina was welbekend as ’n baasbakster en entrepeneur en was veral haar quiche ’n treffer by elke mark waar sy uitgestal het.
Haar liefde om bejaardes te help sal die Boveniete veral onthou.

“Haar hart was soos botter as dit by ou mense gekom het. Sy het ook vir jare na oom Bok Horn gekyk. Elke dag het sy vir hom gaan kos maak en het hom versorg tot met sy afsterwe sowat twee jaar gelede,” is gesê.
Dina het ook gereeld by die ouetehuis ingeloer om die bejaardes te help.
Sy het haar skoolloopbaan aan Hoërskool Johan Jurgens in Springs voltooi en die afgelope agt jaar in Waterval Boven gebly.
Dina word oorleef deur haar ouers, Louis Labuschagné en Sue van den Bergh en haar lewensmaat, Robert van Wyk.
• Die familie was vanmiddag nog in Nelspruit waar hulle besig was met begrafnisreëlings.
