News

“Soos vark oopgesny in hospitaal” ma soek geregtigheid

Dawid Blom (40), is drie jaar gelede “soos ’n vark” oopgesny in die Witbank Hospitaal.

Nou het ’n video wat op sosiale media gedeel word weer die wonde oopgeruk vir sy ma, Odette Botes.

Die opspraakwekkende video, waar twee sekuriteitswagte ’n 13-jarige gestremde seun aanrand in ’n Ladysmith Hospitaal, is wyd op sosiale media en op nuusnetwerwe gedeel.
Op die video skree die kind aanmekaar: “Ngiyaxolisa!” wat “ek is jammer” beteken, terwyl die sekuriteitswagte hom om die beurt aanrand.

Me. Botes se hart het ineen gekrimp toe sy daarna kyk, want sy het weer gehoor hoe haar seun huil van die pyn in die Witbank Hospitaal.

Omdat dit Covid-tyd was, het haar gesmeek om vir hom ’n warm kombers te gee terwyl hy van pyn gekrul het, op dowe ore geval.
Deur rou snikke het sy weer al die gebeure herleef.

“Ek was destyds net te hartseer om ’n berig te doen. My kind het so gely en niemand het omgegee nie.”

Dawid was ’n gesonde man en Odette was baie bekommerd toe hy gevra het sy moet hom dokter toe neem, want hy is in pyn.
’n Ambulans het hom by die huis kom haal.

Vanaf die Middelburg Hospitaal is hy na die eMalahleni geneem.

“Hy het vir agt ure in pyn gelê.”

By die Witbank Hospitaal is hy geopereer vir sy blindederm.

“Hy is soos ’n vark oopgesny, van die bopunt van sy bors tot onder sy maag. En dit was toe nooit sy blindederm nie!”

Na ’n dag of wat is hy huis toe gestuur, maar al het me. Botes alles probeer, het sy gesien haar kind se buik begin opblaas en hy is weer hospitaal toe geneem.

“Ek het vir hom deur die venster gekyk. Hy het op die koue bed gelê sonder ’n kombers. Hy het nege ure so gelê en het bitter koud gekry.”
Sy oproep waar hy gehuil en gesê het: “Mamma, ek het só seer,” sal haar die res van haar lewe bybly.

Drie dae later het daar hoop gekom toe hy laat weet het hy gaan weer teater toe.
Dawid het vir haar gesê dat ’n dokter vir personeel gevra het waarom hy nog nie geopereer is nie.

“Die buis wat hy ingehad het, het geknak en alles het in sy buik uitgeloop. Dawid was nog so bly. Hy het gesê: ‘Mamma, ek gaan nou weer in, hulle gaan dit regmaak.’ Ek en my kind het egter nooit weer gepraat nie.” Dawid is later dieselfde dag oorlede.

Sy is later meegedeel dat die oorsaak van sy dood weens septisemie was as gevolg van perforasie van sy ingewande.

“Ek is só stukkend. Hulle kom weg met moord in die provinsiale hospitale! Dis onregverdig, my kind kon nog geleef het! Ek is net moeg oor hoe dit gaan. Mense gaan onnodig dood. Die hele wêreld bly net stil, niemand doen iets daaraan nie!”

Me. Botes onthou hoe sagte hart haar seun gehad het en hoe geheg hulle aan mekaar was.
“Ons het mekaar se sinne klaargemaak. Ek sal nooit oor sy dood kom nie.”

• Dawid was die tweede seun wat sy aan die dood afgestaan het.
Haar oudste seun, Bertus Blom, het 25 jaar gelede selfmoord gepleeg. Hy was 18 jaar oud. “Ons weet nie hoekom hy dit gedoen het nie. Ons het nooit antwoorde gekry nie.”’

• Me. Anelda Collins (’n prokureur van Pretoria) het bevestig dat sy optree vir me. Botes in ’n mediese nalatigheidsaak teen die Witbank Hospitaal.

“Ons het destyds gesukkel om inligting by die hospitaal te kry en Helgard du Preez het nog deurgery soontoe om alles te kry.” Mnr. Du Preez is in 2021 oorlede.
Me. Collins het gemeld dat hulle nog nie ’n hofdatum gekry het nie, maar sy glo dat dit binne die volgende paar maande sal wees.

“Dawid het baie swaar gekry. Sy ma sukkel om sy dood te verwerk.”

• Daar is ’n navraag gestuur na die Provinsiale Gesondheidsdepartement se kantoor rakende die aangeleentheid. Sodra ’n antwoord verskaf word, sal ons ’n opvolgberig doen.

• Die sekuriteitswagte wat die kind in die Ladysmith Hospitaal aangerand het, is afgedank.

Lees meer:

https://www.citizen.co.za/witness/news/thirteen-year-old-boy-assaulted-in-ladysmith-hospital/

 

 
Back to top button