News

Jong man wat verdrink het, geïdentifiseer

Ian was ’n gewilde seun.

Persone wat gister hulp verleen het op die toneel waar ’n 21-jarige jongman verdrink het, was vanoggend nog erg getraumatiseer.

Ian Jardine, het gister (Sondag) kort voor 13:00 verdrink.

Die ondervoorsitter van die Noodroep Radiogroep Sektor 3 (NRRS3), Juanita Groenewald, sê die toneel was vir hulle baie traumaties, aangesien baie van hul lede vir Ian geken het.

Sy het die noodroep gekry dat ’n jong inwoner by die gruisgat in die water geval het en het dadelik al die nooddienste gekontak, asook op Zello vir hulp gevra.

Herculaas Taljaard (ook ’n lid van die NRRS3) sê hy het die noodroep gehoor en hy en Willem Kies het hulle na die toneel gehaas.

Hulle het omstreeks 13:10 daar aangekom.

Daar was ’n vrou met ’n seun en twee dogters op die toneel, wat gesê het dat drie ander seuns gehardloop het om hulp te kry.

“Daar is vir ons gesê hy het afgegaan en nie weer opgekom nie. Toe ek afkyk in die water, het daar nog borrels in die water van onder af gekom.”

Die seuns het in die gruisgat geswem, toe een van die seuns skielik vir hulp geroep het. Die ander het hom na die kant toe gehelp.

Hulle het gehoor Ian roep ook om hulp, maar toe hulle na hom toe swem “het hulle net gesien sy hande sak in die water in. Een van die seuns het agter hom probeer aanswem, maar kon hom nie opkry nie.”

Herculaas sê dat daar vir hom gewys is waar Ian af is en hy het met ’n bootanker, wat iemand vir hom gegee het, probeer om Ian se liggaam uit die water te haak.

“Hy het egter net ’n kortbroek aangehad en die anker kon hom nie haak nie.”

Die polisieduikers is gekontak en hulle het vanaf ’n ander toneel op Bethal gejaag om Ian se oorskot uit te haal.

“Die duikers het net na 16:00 daar aangekom en was skaars ’n minuut onder die water, nadat ek vir hulle verduidelik het waar Ian gelê het. Die gruisgat loop in vlakke af en is baie diep. Hulle het Ian omtrent op sewe meter diep, waar hy op ’n klip gelê het, uitgehaal.”

• Ian het die afgelope paar maande by Propshaft Centre, by mnr. Steven Pieterse gewerk.
Mnr. Pieterse het hom beskryf as ’n harde werker en “baie aangename kind. Hy was ’n baie gewillige kind om te werk. Sy dood is vir ons ’n groot skok.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button