Kabeldiewe sit hoog in die takke
Middelburg verloor maandeliks miljoene rande weens kabeldiefstalle.
•Die verliese is so groot dat daar nie eers geld is om die honderde stukkende straatligte te herstel nie.
•Niks word deur die kabeldiewe ontsien nie, nie eers verkeersligte nie.
•Die krisis is so groot dat raadslede begin het om straatkomitees te stig om te waak oor infrastruktuur.
Terwyl die dorp se elektriesenetwerk onherstelbare skade aangedoen word, kom kabeldiewe week na week weg weens swak polisiewerk.
Dossiere word nie ingevul nie of word onvolledig ingevul wat howe genoodsaak om sake te laat vaar.
Week na week berig die Middelburg Observer hoe dat kabeldiewe gevang word, hulle foto’s word geneem vir publikasie sodat die dorp kan sien hoe lyk die stropers en dan word die sake teruggetrek weens onvolledige dossiere.
Twee kabeldiewe is weer die week laat gaan, nadat die saak nie op die hofrol geplaas kon word nie, weens onvoldoende verklarings, wat vervolging onmoontlik maak.
Tientalle kriminele word daagliks vrygelaat weens “onvoldoende bewyse.”
Soms besluit die polisie self om die kriminele los te laat, terwyl talle van die sake wat dit wel hof toe maak, verwerp word weens onvoldoende verklarings en bewyse.
Titon Security het Vrydagaand op ’n noodroep in die area van Laerskool C.R. Swart gereageer en tydens patrollie gehoor hoe skreeu ’n inwoner.
Met nadere ondesoek het hulle twee mans gesien wat besig was om kragkabels te sny.
Die mans het egter laat spaander toe hulle die reaksievoertuie sien.
Reaksiebeampte Martin Meintjies en Douglas Uckard het besluit om ’n bebosde gebied langs die skool van weerskante te omsingel.
Terwyl Meintjies die area te voet gefynkam het, kon hy niks opspoor nie.
Daar was ’n uitgebreide soektog waarby die Noodroep Radiogroep Sektor 3 ook betrokke was.
Toe Meintjies ’n boomtak hoor kraak, het hy met sy flitslig by die boom opgeskyn, en twee mans hoog in die takke gesien.
Twee boutsnyers het tussen die boomtakke gehang.
Die mans is beveel om uit die boom te klim.
Die twee het die naweek in die selle deurgebring en die saak is hof toe verwys vir beslissing.
Die Middelburg Observer het betroubaar verneem dat aanklaers nie die saak op die hofrol kon plaas nie, weens “onvoldoende verklarings met belangrike inligting wat uitgelaat is.”
In die meeste van die sake waar kriminele bloot laat gaan word, is daar nie klaers nie.
Die polisie weier in die gevalle om sake as klaers te registreer.
