Wees gewaarsku – daar is ’n nagsluiper
Nagsluipers het die afgelope paar dae in Kanonkop toegeslaan en by ten minste twee huise televisies gesteel.
In die jongste voorval in Vygiestraat in die vroeë oggendure, het hulle ’n vrou se bank- en ander kaarte en ’n resepteboekie op die grasperk gelos.
“Die oomblik toe ek sien daar is ingebreek, het ek na buite gestorm en geweldig geskree. Ek was só geskok!” het me. Amanda Snyman gesê.
Sy is al vir 34 jaar ’n onderwyseres by Laerskool Koornfontein en staan vroeg in die oggende op om haar voorbereiding vir haar graad een en twee’s te doen en betyds op die pad te wees om Blinkpan toe te ry.
“Toe die wekker 04:00 afgaan het ek opgespring en besig geraak. Ek wonder of my geluide in die huis hulle nie laat vlug het nie.”
Amanda het op ’n stadium kombuis toe gestap en gesien haar sitkamergordyn hang skeef. Sy het aanvanklik gedink haar gordynreling het gebreek.
Met nadere ondersoek het sy egter gesien die venster staan oop en die diefwering is afgesny.

Sy het besef daar is ingebreek.
Amanda sê dat hulle onder deur die alarm-ogie is om by haar skootrekenaar en handsak uit te kom. Die vermoede bestaan dat die persoon dalk gebukkend geloop of gekruip het om nie die alarm te aktiveer nie.
Daarna het die booswig ook haar televisie gevat.
“Hierdie was egter ’n baie vreemde inbraak. Hulle het my kaarte, wat in my beursie was, op die gras bymekaar uitgegooi. Hulle het ook my klas en kar se sleutels vir my gelos.”
Alhoewel die beursie met R1 000 kontant nie baie waardevol was nie, het sy egter baie sentimentele waarde daaraan geheg.
“Ek was besig om die beursie te koop op 20 Mei 2021, toe ek die oproep kry dat my broer, Johan Pelser, oorlede is. As ek die beursie gebruik het, het ek aan hom gedink.”
Sy was ook bang dat ’n klein pienk dagboekie, wat in haar handsak was, weg is.
Die boewe het dit egter tussen die kaarte op die gras gelos.

Die pienk dagboekie het behoort aan haar ma, Marie Pelser, wat in op 27 November 2022 oorlede is.
“My ma het altyd haar resepte in die pienk dagboekie geskryf.”
Amanda het gemengde gevoelens oor die gebeure.
“Aan die een kant voel ek magteloos en is ek woedend! Hulle het my privaatheid geskend, my veilige hawe binnegedring. Maar aan die anderkant is ek dankbaar dat ek niks oorgekom het nie, dat daar niks drade geknip is nie en dat ek my kaarte teruggekry het.”
Sy is ook ontsteld dat alles wat op haar skootrekenaar was, soos die voorbereiding vir haar klas en die punte daarmee heen is. “Gelukkig is die meeste punte darem reeds op die skool se stelsel.”
Na die inbraak gaan sy nou die sekuriteit by haar huis opskerp.
• Amanda is verstom dat sy niks gehoor het tydens die inbraak nie, aangesien sy ’n ligte slaper is.
“Die wakker hond van die mense agter ons, blaf selfs vir my as ek in my kombuis ingaan, maar hy het ook nie deur die nag geblaf nie!”
Amanda het Titon Sekuriteit, wat die area gefynkam en die spore gekry het waar die booswigte geloop en oor die muur geklim het, bedank.
Sy wil die bure wat haar ondersteun het bedank.
• Laasnag is daar ingebreek by ’n leë huis in Impalastraat en groot skade aangerig.
• Saterdag in die vroeë oggendure is daar ’n televisie en afstandbeheer by Naas en Jana Boshoff in Lobeliastraat gesteel.
Jana vertel dat hulle Vrydagaand saam met vriende gaan uiteet het en omstreeks 23:00 tuis gekom het.
Om 02:54 het hul alarm afgegaan en het die sekuriteitsfirma hulle gebel.
Naas het gaan ondersoek instel en kon niks sien nie en het die alarmbesigheid laat weet alles is reg.
Jana het om 06:00 opgestaan om te gaan kyk wat die alarm kon laat afgaan het. Sy het gesien hul televisie en een van die afstandbeheerders is weg.
Die inbreker het die diefwering geknip om by die venster aan die voorkant van die huis in te kom.
Daarna het hy die televisie uitgeprop en die regte afstandbeheerder uit ’n kassie, waar verskeie ander was, gehaal.
“Hy het die geheuestokkie, wat agter in die TV was, uitgehaal en vir ons gelos.”
Wat hulle dronkslaan is dat hy net die televisie gevat het, maar nie die Smartbox nie, alhoewel dit ook uitgeprop was.

Die dief het ’n stoel uit ’n ander deel van die tuin gevat om by die venster uit te kom.
Hy het die stoel later, saam met die diefwering wat hy afgesny het, om die hoek neergesit.
Wat die egpaar omkrap is dat hulle, buiten die booswig se spore in die tuin, ook ’n plek langs die muur gekry het waar hy ontlas en geurineer het.
• Nadat daar op die straatgroep melding gemaak is van die inbraak, is daar later laat weet dat daar vandale in dieselfde straat ’n huis wat tans leeg staan geteiken het.
Al die koperdrade, -krane en -vensterrame is gesteel.
• Net ’n paar dae voor die inbraak by die Boshoffs, het ’n inwoner van Lobeliastraat een oggend vroeg gery en gesien hoe ’n verdagte met ’n televisiestel oor Renosterstraat hardloop en in die veld oorkant die pad verdwyn.
• Op 24 September is daar om 02:15 op die Lobeliastraat-groep gevra vir hulp, nadat twee verdagtes in iemand se erf ingespring het. Gelukkig het die honde die betreders verjaag.
