News

Biddende dwelmverslaafde is dood

Vaughn Uys, die man wat vir jare teen die dwelmdraak gestry en later vertel het “hoe die Here hom ’n tweede kans op lewe gegee het”, is dood.

Die vrou wat vir jare sy stiefma was, Ondean Uys, het hartseer vertel dat sy Sondagoggend vanaf haar huis in eMalahleni met hom Witbank Hospitaal toe gejaag het, nadat ’n ambulans nie opgedaag het nie.

Maandag in die vroeë oggendure het die hospitaal haar laat weet dat hy oorlede is.

“Ek weet nog nie of hy voor of na middernag dood is nie, want ek het nie die doodsertifikaat gesien nie.”

Sy afsterwe is vir haar ’n geweldige skok, want net ’n maand vantevore was sy die eerste persoon wat die polisie gebel het nadat Vaughn se pa, Pieter (74), homself in die parkeerarea by die Middelburg Mall geskiet het. Hy het onder andere haar nommer op sy selfmoordbriefie gelos.

Ondean vertel dat sy vir 15 jaar met Vaughn se pa getroud was en dat hulle 20 jaar saam was. Later jare is hulle geskei, maar het hulle steeds goeie vriende gebly.
In die 15 jaar wat hulle getroud was, was sy vir Vaughn ’n ma-figuur, want sy eie ma is dood toe hy baie jonk was.

“’n Paar dae na sy pa se dood het hy met sy pa se bakkie hier aangekom en ons het weer ’n besondere band gevorm. Ek was soms tot vier keer ’n week hier by my en het ons ure gesels.”

Vaughn tydens ’n onderhoud in 2020 toe hy nog aan dwelms verslaaf was.

Saterdag het hy weer by haar kom kuier.

Hulle het tot laat gesels en sy onthou hoe daar saam gelag en gehuil is. Hy het die nag by haar huis oorgeslaap.

Sondagoggend was hy geweldig siek en sy het ’n ambulans gebel, maar toe die ambulans nie kom nie, het sy self met hom gery hospitaal toe.
“Hulle het hom gestabiliseer, maar hy is later oorlede. Hy het op 4 Oktober 44 jaar oud geword.”

Sy dood was vir haar erg traumaties.

“In Februarie hierdie jaar het my verloofde, Carl Thomas, in ’n motorfietsongeluk gesterf. Op 4 September het Pieter homself geskiet en nou is Vaughn dood!”

Met Pieter se selfmoord, kon die polisie nie vir Vaughn in die hande kry nie (sy foon was stukkend) en hulle het vir Ondean gebel, wat haar na die toneel gehaas het.
Sy kon egter nie vir Vaughn in die hande kry nie en het die volgende dag vir my (Daleen Naudé) gevra om na hom toe te ry sodat hy haar kan kontak.

Die oomblik toe ek by die hek stop, het hy aangestap gekom en dadelik gesê, “my pa is dood…”
Ek het egter niks gesê nie, net Ondean se nommer gebel, waartydens sy aan hom bevestig het dat sy pa dood is.

Skok en ongeloof het hom kwaad laat uitroep, maar die trane was tog vlak.

So bo-oor die hekkie het ek hom nader getrek en hom ’n drukkie gegee. “Ek is só jammer Vaughn” was van die laaste woorde wat ek ooit vir hom gesê het.
Daarna het ek hom nie weer gesien nie.

Om van sy dood te hoor, het my soos ’n vuishou tussen die oë getref, want Vaughn was altyd ordentlik met my, al het ek vroeër jare geskryf dat hy aan dwelms verslaaf is.

Die meeste Middelburgers het hom geken as ’n dwelmverslaafde wat in ’n biddende posisie op sy knieë op die hoek van Oranje- en John Magagulastraat gesit het.

In Mei 2022 het die ‘nuwe’ Vaughn voor my gestaan en ’n getuienis gegee wat hoendervleis oor my arms laat uitslaan het.
Hy het vertel dat hy opgehou dwelms gebruik het die dag toe sy hart gestop en ’n stem duidelik vir hom gesê het: “staan op en loop.”

Vaughn het gesê die “stem” wat hy gehoor het “was die Here wat sy lewe gespaar en hom ”n tweede kans gegee het.”
Hy het gesê dat sy lewe verander het nadat hy byna gesterf en soos Lasarus, “uit die dood opgestaan en geloop het.”

Vaughn het sy dwelmlewe heeltemal oopgevlek en vertel dat hy ’n week voor sy 13de verjaardag begin dwelms gebruik het.
Hy het bekend geword in Middelburg waar hy op sy knieë met sy Bybel by hom, op sy knieë gestaan het.

Sy beskrywing daarvan: “Ek het regtig gebid. Ek was soekend na God. Mense kan my oordeel, maar ek het regtig vir hulp by Hom gepleit.”
Vaughn het ook gesê dat hy van dorp tot dorp geswerf het en duisende rande se dwelms gebruik het. Hy is ook gearresteer vir diefstal.

In Januarie 2022 het hy besef sy liggaam is besig om in te gee, want sy been was gebreek en hy sou eers later daardie jaar geopereer word. “Boonop het my niere en hart begin ingee. Ek het hoop verloor.”

Een oggend het hy opgestaan, R1 200 se dwelms gekoop, wat heroïne, kokaïne en kristal metamfetamien ingesluit het, en alles binne twee ure gebruik.
“Ek het heroïne ingespuit en die crack gerook.

’n Foto van Vaughn wat in 2022 geneem is toe hy vertel hoe die Here hom laat leef het hom vir Hom ’n getuienis te wees.

“Ek het heeltemal oordosseer, maar ek wou doodgaan. Omdat my ingewande so siek was van al die dwelmgebruik, kon ek nie meer eet nie en my organe het ingegee.”
Terwyl hy op ’n bankie gesit het, het hy gevoel “hoe die lewe my verlaat.”

“Ek kon voel hoe my hart ophou klop en ek ophou asemhaal. God het met my gepraat, want Sy stem het gesê, ‘staan op en loop’ en ek het opgestaan en begin loop. Ek kon voel hoe my hart weer begin klop en hoe ek weer asemteue gee.”

Vaughn het gesê nadat hy “uit die dood uit teruggekom het,” het hy besef dat as hy weer dwelms gebruik, gaan hy sterf en dat die Here hom duidelik nog ’n kans gegee het.

“Ek het ernstig gebid en vir die Here gevra: ‘wys my U weg.’ God het vir my gevra wat het ek gesien toe ek besig was om te sterf, en ek het vir Hom gesê ek het ’n donker, koue plek gesien. Hy het vir my gesê: ‘wil jy soontoe gaan?’ Ek het Hom gevra om vir my iemand te stuur wat my kan help.”

Vaughn het met ’n glimlag onthou hoe ’n vrou, wat hy ‘n ‘engel’ noem hom van die straat af kom haal en verpleeg het tot hy beter was.
“God het my omring met engele,” en het hy trots vertel van sy persoonlike bediening “waarin ek die Here in alles ken.”

Later het hy ook ’n stemboodskap van hoop gestuur vir dwelmverslaafdes uit 2 Kronieke 20. Sy boodskap was: “God sal jou nooit los nie. Jy moet net na Hom toe gaan soos jy is.”

Vaughn het vroeër hierdie week na sy Skepper toe gegaan, net soos hy is….

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button