Video: Kyk hoe steel diewe vier sonpanele
Diewe het Vrydag in die vroeë oggendure presies geweet hoe om toegang te kry tot ’n perseel in Bothasbergstraat (Aerorand) om sonpanele te steel.
“Ek wou nog 05:00 Vrydagoggend na die biduur toe gaan, maar moes hulle laat weet ek kan nie, oor die diefstal,” het Rudie Kern gesê.
Hy was besig om uit te ry by sy erf, toe hy sien dat sy leer teen die motorhuis staan en dat van die panele van die motorhuisdak af gesteel is.
Na aanleiding van sy buurman, Piet Steyn, se CCTV videomateriaal, kon hulle later sien dat die diewe vir twee ure, tussen 02:00-04:00, in die erf was om die panele te steel.
“Ons het niks gehoor nie, want die motorhuis is apart van die huis. Hulle het baie stil gewerk, want die mense oorkant die straat se honde het nie eers geblaf nie. Gewoonlik blaf hulle as hulle iets sien of hoor en dan gaan kyk ons dadelik wat aangaan.”
Die twee diewe het die voorste palissade losgeskroef om toegang tot die perseel te kry. “Hulle moes met hul eie spanners gekom het!”
Daarna is hulle af in die gangetjie tussen die Kerns en Steyns, waar daar ook ’n kleinhekkie tussen die twee huise is, sodat hulle by die Wendyhuis kon uitkom.
“Ons kinders het toe hulle jonk was oor en weer gekuier en die hekkie ingesit.”
By die Wendy het die booswigte die slotmeganisme logeskroef om by die alluminiumleer in die Wendy uit te kom.
Die leer is staangemaak teen die motorhuis waar hulle opgeklim het om by die sonpanele op die motorhuisdak uit te kom.
“Hulle het nie die skroewe losgemaak nie en die plaatjies weggebuig. Ek moet nog daardie skade ook laat regmaak!”
Die boewe het eers twee panele uitgedra en daarna teruggekeer vir die ander twee.
Hulle is heen en weer in die bure en mnr. Kern se erf in. Hulle wou eers uitgaan vanaf mnr. Steyn se erf, maar kon egter nie uitkom nie en is terug na die Steyns se erf waar hulle deur ’n gat wat hulle oopgemaak het in die palissade geklim en afgeloop het in die straat.
Mnr. Kern meld dat dit 480 watt panele is, wat sowat R2 500 per paneel beloop.
Hy het inwoners gewaarsku om seker te maak hul tuiniers is betroubaar en ook bedag te wees op rondlopers wat huise dophou.
@middelburgobserver Four solar panels were stolen in Aerorand by a very nonchalant thief #loadshedding #loadsheddinginsouthafrica #solarpanel #crime #crimesouthafrica #southafricacrime #middelburg #solarpanels #panelsolar #aerorand #breakin