Wanneer jou twee grootste ondersteunres langs die veld is, is daar ekstra huppel in ’n Kwagga se stap.
Springbok rugbyspeler Kwagga Smith se ma, Marié, het gisteraand uit Parys in Frankryk vertel hoe trots sy is op haar seun se vertoning Sondag in hul wedstryd teen Frankryk.

Die Springbokke het met 29-28 gewen en Kwagga, wat as plaasvervanger opgedraf het, het ’n leeue-aandeel gehad dat hulle die kwarteindwedstryd gewen het.
Buiten dat Kwagga se ma en vrou, Ilke, daar is om hom te ondersteun, is Marié se vriendinne, Elize le Roux en Rose Grobler, ook in Frankryk.
Elize is Bees (Divan) Swart se ma. Bees het saam met Kwagga rugby gespeel by HTS Middelburg.
“Ons twee het van laerskool tot hoërskool die seuns ondersteun, oral waar hulle gegaan het.”

Marié sê dat “Kwagga van kleins af ’n nederige, plat op die aarde seun is.”
Sy vertel dat hy uit sy pad sal gaan om mense te help.
“Daar waar hy vandag is, moes hy baie hard werk en baie teleurstellings verwerk omdat hy te klein was vir die spel. Hy het nooit opgehou om te glo hy sal dit maak in die rugbywêreld nie, Hy het almal verkeerd bewys dat grootte nie die enigste faktor in rugby is nie”.
Sy sê rugby is “in sy bloed en hy het altyd ’n liefde gehad vir ’n rugbybal.”
As sy terugdink aan Sondag se wedstryd, sê sy: “ek was baie trots om hom te sien opdraf. Ek bid ook altyd dat hy sonder beserings sal afdraf en dat hy sy beste sal gee vir die span.”

Elke oomblik van Kwagga se rugbyloopbaan is uniek vir haar.
“Twee besondere oomblikke was toe hy vir die o/20 Junior Springbokke gekies is 10 jaar terug en die eerste wêreldbekertoernooi in Japan, toe weet ek sy harde werk was alles die moeite werd.”
• Marié het ook goedgunstiglik foto’s van hul kuiertjie in Frankryk saam met Kwagga aangestuur.

