’n Uitnodiging na die kunste terwyl daar wêreldbeker rugby is
Dit is Vrydagaand, die All Blacks en Argentinië speel in die halfeindstryd van die wêreldbeker.
’n Aand van braaivleis en rugby.
Toe beland daar ’n uitnodiging op my lessenaar: “InnieKunste, Middies se eie kunstefees. Kom deel in ’n feeskonsert.”
Regtig?
Op ’n Vrydagaand voor die rugby?
Wie is nou lus vir sang en dans?
Die aanbieders is Sbusiso Zulu en Elzené de Jager.
Hulle is beide ellegant aangetrek in swart.
Sbusiso praat die mooiste Afrikaans en wissel dit af met suiwer Engels.
Daar is prose, poësie, poetry en improvisasie.
Daar word hoog geskop en lywe geruk met energieke dansitems.
Nivan van Wyk moker die tromme so hard, jou bene begin ritmies meedoen.
Miguel Fernandes en Khabozile Mahlangu lewer ’n intieme en aangrypende vertolking van “Shallow” en Connor van Rensburg prikkel die lagspiere met “Is die kos amper klaar?”
Selfs my lus vir braaivleis verdwyn.
Dankbaar vir Juffrou Dorette Prinsloo se uitnodiging.
Leoné du Plessis, Mia Barkhuizen, Lene Botha en Clara Venter dans die verhoog warm, Amelie Hattingh sing “Colours of the wind” sóóó mooi.
Daar is iets wat jou meer voed as braaivleis en rugby.
Kunste op sy beste.
Tieners wat hulle op verskillende wyses uitdruk.
Die intensiteit van menswees vasgevang in ’n aand van kleur en energie.
Skielik laat braaivleis en rugby jou arm voel…
