Karwag se kop met staalpyp oopgeslaan
’n Karwag in die parkeerarea by die OK Grocer in Mineralia se kop is gisteraand oopgeslaan, omdat hy nie vir die aanvaller geld wou gee vir ’n trollie nie.

Pieter Antill is gewelddadig oor die kop geslaan en hy moes vanoggend teruggaan na die Middelburg Hospitaal waar die pyp hom op sy kop oopgekloof het.
Arthur Hill (Dagpatrollie) sê die verdagte het nog die staalpyp, wat ’n selfgeprakseerde handvatsel gehad het, by hom gehad toe hy en sy lede daar aankom.
“Ons het vir hom gesê om die pyp by hom te hou, maar hy het dit vir een van sy vriende gegee, wat dit gegryp en weg gehardloop het. Die verdagte het ons in die polisiestasie met die dood gedreig!”
Thea Murray, wat al sewe jaar ’n karwag is in dié parkeerarea, sê sy was tydens die aanval op Pieter op daardie stadium in die kruidenierswinkel.
Op pad uit, het Pieter aangestap gekom, bloed het oor sy gesig gestroom.
Sy sê dat die aanvaller hulle gereeld dreig met ’n mes en een van die karwagte al geklap het.
Die karwagte het later vir Arthur vertel dat die man daar aankom met van OK Grocer se trollies en dan geld soek, gewoonlik R50 per trollie.
As hulle nie wil geld gee nie, dan raak hy uiters aggressief.
Gisteraand het hy dit weer gedoen en toe hy nie vir hulle geld wou gee nie, het hy vir die personeel in OK Grocer gevra vir geld of kos, dan sal hy vir hulle die trollie gee.
Hulle het egter geweier en hy is na buite, waar hy vir Pieter oor die kop geslaan het met die pyp.
Thea het dadelik die Dagpatrollie gekontak en hulle het die man aangekeer.
Hy is kort daarna aan die polisie oorhandig.
“Hy het vir ons geskree hy gaan more (vandag) uit wees en dan gaan hy vir ons kom. Hy het my op my naam genoem en ook vir my gesê hy weet waar ons bly.”
Van die ander karwagte is ook saam na die polisiestasie om te vertel hoeveel probleme hulle met die aanvaller het, maar, volgens Thea en Arthur, wou die polisie nie op daardie stadium hulle verklarings neem nie.
• Die Dagpatrollie-lede wat op die toneel was, is: Arthur, sy vrou, Louise, Frikkie Vermaak, Stephan Kruger en Cor Nienaber.
• Daar word verneem dat die man wat aangekeer is, vandag in die hof sal verskyn op ’n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Sy naam kan nie op hierdie stadium gebruik word nie, omdat hy nog nie verskyn het nie.