Bejaarde met kierie vasgedruk en met skerp voorwerp in kar gesteek
Die 80-jarige Jaap Visser is gister (Sondag) in sy voertuig deur ’n rower met ’n skerp voorwerp gesteek en met sy eie kierie vasgedruk toe hy probeer terugveg het tydens ’n rooftog.
“My linkerarm is met die kierie vasgedruk, hy het my met iets skerp in die regterhand gesteek en die sakkie waarin my selfoon en kaarte was uit my hemp se sak geruk. Terwyl hy my vasgedruk het, het hy gesê: ‘Now it is mine!” onthou hy die gebeure.
Hy en sy vrou, Helen (79), het na kerk gou by Fishaways in Cowen Ntulistraat gestop.
Tannie Helen het bestuur en uitgeklim om die kos te gaan koop.
“Die aanvaller moet Fortuners ken, want hy het geweet ons kan nie die voertuig sluit nie, anders gaan die alarm af met oom Jaap binne.”

Hy het deur die venster vir sy vrou gekyk, wat reeds betaal het en met haar rug na hom toe in die gebou gesit het om te wag vir die kos.
Die volgende oomblik het die bestuurderskant oopgevlieg.
“My sitplekgordel was nog vas en ek het probeer keer, maar ek het ’n linker skouervervanging gehad en moet gaan vir my regterskouer, so ek kon nie terugveg nie.”
Oom Jaap het sy kierie, wat in gedeeltes in mekaar indruk, opgelig om die rower te probeer afweer.
“Ek het egter gevoel my regterhand word lam, dit is toe hy my met ’n skerp voorwerp in die hand gesteek het.”
In dieselfde momentum het die booswig die kierie aan die anderpunt beetgekry en die onderste gedeelte uitgeruk.
Hy het dié gedeelte gebruik om oom Jaap se linkerarm teen die deur vas te druk, terwyl hy die sakkie met sy selfoon en kaarte uit sy linker hempsak geruk het.
“Alles het so vinnig gebeur, dat ek nie sy gesig mooi kon sien nie.”
In die tyd dat die rower oom Jaap aangeval het, het van die personeel van Fishaways opgemerk wat gebeur en vir tannie Helen geskree: “He is attacking your husband!”
Sy het na buite gehardloop, net om saam met oom Jaap en die omstanders te sien hoe die boef agter om die Fortuner spring, voor hulle verbyhardloop (in die rigting van Lilian Ngoyistraat) en ’n ent verder rustig verder loop.

“Ek het vir die mense om my gevra om hom te vang, want hy het net verder geloop. Niemand is egter agter hom aan nie,” sê tannie Helen.
Oom Jaap se hand het erg gebloei en een van die personeellede van Fishaways het met ’n servet nader gedraf om die bloed te probeer stop.
Die egpaar is vandaar huistoe, waar hul skoonseun, dr. George Bronkhorst, die wond op sy hand skoongemaak en toegemaak het. Die wond was gelukkig nie diep genoeg vir steke nie.
’n Omgekrapte oom Jaap sê hy het twee weke gelede sy selfoonkontrak hernieu en ’n nuwe Galaxy A24 gekry.
Hy is egter die meeste ontsteld oor al sy kaarte, waaronder sy bank-, ID- en bestuurderslisensiekaart wat weg is.
Hulle doen ’n beroep op die gemeeskap dat indien enigiemand dit optel, om vir Susan Otten (Gemeenskapspolisiëringsforum, Gholfsig en Clubville) te bel by 073 615 3353. Sy voorletters is JJ.

• Daar is navraag gedoen by die Fishaways bestuurskantoor of daar al ander soortgelyke voorvalle voor hul winkel was en is gesê dat dit die eerste keer is waarvan hulle weet.
Alhoewel hulle nie CCTV-kameras het wat straat toe wys nie, is genoem dat daar wel in die straat op ’n paal ’n veiligheidskameras is.
As’n persoon die saak aangemeld het, kan hulle met ’n saaknommer (wat die polisie sal gee as die saak geregistreer is) na die munisipaliteit se verkeersafdeling toe gaan en kan daar gevra word om na die videomateriaal te kyk.
•Middelburg se sakekern het ’n misdaadnes geword waar niemand meer veilig is nie.
