HTS Middelburg staking finaal verby
Met die matriek eindeksamen in volle swang, en alle plaaslike Graad 12’s wat vandag inskuif vir hul eerste Engelse vraestel, het HTS Middelburg aangekondig dat die staking van algemene skoolpersoneel verby is.
Ouers se vrese dat stakende personeel HTS se matriek eindeksamen kon ontwrig, is finaal deur skoolhoof Hoppie van Jaarsveld besweer met die aankondiging.
’n Ooreenkoms is volgens mnr. Van Jaarsveld tussen die skool se beheerliggaam, en die werkers bereik.
Mnr. Van Jaarsveld sê dat die ooreenkoms billik is en dat werkers tevrede is met die aanbod wat aan hulle gemaak is.
Die staking, wat net meer as drie maande geduur het, was wettig met sekere voorwaardes, soos dat daar net by die hoofhek van die skool betoog mag word, en dan ook net tusen 07:00 en 17:00 op weeksdae.
Maandag het plaaslike matrieks afgeskop met hul eerste Engelse vraestel, gevolg deur Afrikaans Woensdag en Wiskunde Vrydag.
Leerlinge sal volgende Maandag hul tweede en finale wiskunde vraestel skryf, gevolg deur hul eerste fisiese wetenskap vraestel volgende Vrydag.
Stakende algemene werkers het onder meer aangedring op pensioenbydraes, vervoer van en na die skool, en verhogings op hul uurlikse betalings.
Die staking het in Julie afgeskop en alhoewel werkers voorverlede week terug is werk toe vir ’n enkele dag, sodat onderhandelinge voortgesit kon word, is geen ooreenkoms bereik nie.
Wat die staking meer problematies gemaak het was die EFF se sporadiese betrokkenheid, soos voorverlede week waartydens personeel en ouers toegang tot die skoolterrein geweier is.
Kinders kon wel te voet instap onder begeleiding van manspersoneel.
Mnr. Van Jaarsveld sê dat die eindeksamen seepglad sal verloop sonder enige vrese van ontwrigting, noudat die staking verby is.
Die skool se ander grade skop ook die week hul eksamens af.
