News

‘Klankie’ op Pullenshope reg gemaak

Rou riool wat bykans ’n jaar in ’n stormwatersloot op Pullenshope ingeloop het en selfs beeste op nabye plase siek gemaak het, is deur die munisipaliteit herstel.

Van die inwoners sê hulle het in die laaste jaar talle boodskappe na die munisipale WhatsApplyn gestuur, want buiten dat hulle nie kon leef weens die stank nie, het die riool ’n groot gevaar vir die vleilande ingehou.

’n Skermskoot van die rou riool wat in die stormwatersloot afgeloop en nie net gestink het nie, maar ook in die vleilande op plase en in die rivier laat beland het.

Die riool het in die vleilande ingeloop, van daar af sy stankstroom in die boere se damme en spruite laat beland, wat beeste siek gemaak het en uiteindelik sy weg gevind na die rivier tot by die Middelburgdam.

Dit het vir inwoners wat oorkant die pad van daar af bly, gelyk of ’n rioolpyp verkeerdelik met die stormwaterpyp gekoppel is.

Die munisipaliteit het die stormwatersloot skoongemaak en die pype en mangat herstel.

By navraag aan die munisipaliteit, het die mediakantoor gesê dat hulle tydens hul ondersoek (nadat die Observer hulle aandag daarop gevestig het) gevind het dat dit ’n mangat was wat ingeval en die rioolprobleem veroorsaak het.

• Die inwoners het met dankbare harte laat weet dat die munisipaliteit die sloot skoongemaak en die pype herstel het.

Die plek waar die pype herstel is.

 
Back to top button