News

Kabeldiewe steel dorp bankrot – straatligte se geld gevat

Industrïele besighede in Liter- en Newtonstraat is vanoggend weer sonder krag nadat ’n kragboks deur die nag oopgebreek en gestroop is van brekers, kabels en ander elektriese toerusting.

Van die besighede werk onder streng spertye weens uitvoerverpligtinge op gepattenteerde fabrikate.

Die besighede voer al twee jaar ’n stryd om ’n ondergrondse kabel, wat gereeld in die verlede oop gegrawe en uitgetrek is, dieper begrawe te kry.
Die kabel is intussen sowat twee meter onder die grond terug geplaas, en vir vyf maande kon die besighede produksie ononderbroke voortsit, behalwe vir beurtkrag.

Volgens ’n sakeman is ’n groot transformator ook in die verlede gereeld deur boewe geteiken.

Die sakeman sê dis duidelik dat daar ’n diefstal sindikaat binne die munisipaliteit werksaam is.
Hy sê dat ’n munisipale span net verlede week die transformator, wat gisteraand geteiken is, opgeknap het.

“Ons het nog gegrap toe ons sien hulle werk daar dat die kragboks binne ’n week gavandaliseer sal word, en siedaar!”

Die ander transformator wat gereeld beskadig is, is intussen deur besighede met ’n metaalraam beveilig.
Daar is hard baklei vir dié stap nadat die munisipaliteit aanvanklik toestemming geweier het vir die raamwerk.

Die munisipaliteit het ’n sleutel om toegang tot die omraamde transformator te kry.
Die sakeman sê dat dié transformator nog nooi weer beskadig is nie.

“Dit maak in elk geval nie sin vir die munisipaliteit om hulp van besighede van die hand te wys terwyl hy steier onder voortslepende diefstalle nie.”
Hy sê hulle sal nou die kragboks wat gisteraand gestroop is ook beveilig met ’n raamwerk.

“Ons het al drie maal self toerusting en gereedeskap voorsien om van die transformators te herstel, maar die area bly ’n brandkol vir kabeldiewe.”

Hy sê dat hulle in die verlede weens die diefstal van die ondergrondse kabel, daelank sonder krag moes sit, en moes staatmaak op kragopwekkers wat die besighede ’n plaas se geld kos.

Die sakeman het DA raadslid Hennie Niemann se lof besing, nadat raadslid Niemann die munisipaliteit so ver kon kry om die kabel minstens twee meter diep te begrawe.
In die verlede was toegang maklik omdat hy net sowat 30 sentimeter onder die oppervlak was.

Raadslid Niemann het reeds die diefstal en vandalisme aangemeld en ’n munisipale span sal vandag nog die transformator herstel.
“Ons gaan maar die raam bou, dis al medisyne, daar kan mos gesien word dit werk.”

Kabeldiefstalle het die munisipaliteit al so lam gelê dat hulle by die straatligbegroting begin geld vat het vir kabels en toerusting.
Daar is aan raadslede bevestig dat kabeldiefstalle die munisipaliteit meer as R1 miljoen per maand kos, soms meer.

’n Vaste kosteberaming kan egter nie gedoen word nie omdat diefstalle wisselvallig is, en inwoners ook nou toenemend ’n wakende oog oor elektriese infrastruktuur in hul areas hou.

In die sentrale sakekern het DA raadslid San-Mari Wait inwoners ook onlangs so ver gekry om individuele WhatsApp -roepe vir strate in die sakekern te begin, en ook by die Gemeenskap in Blou se span aan te sluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button