News

Katnes van korrupsie by eens eerbare munisipaliteit oopgevlek

’n Katnes van korrupsie is by die Steve Tshwete Munisipaliteit oopgekrap!

Tien personeellede, waaronder twee uitvoerende hoofde, is voorlopig uit hul ampte geskors namate die korrupsie blootgelê word.

’n Spesiale raadsitting is Dinsdag onder groot geheimhouding gehou, waartydens munisipale personeel, die publiek en die media uit die raadsitting verskoon is, weens die sensitiwiteit van die inligting onder bespreking.

Drie verslae is tydens die sessie aan die raad voorgelê, maar die inligting was so sensitief dat raadslede alle dokumentasie met betrekking tot die ondersoeke moes terug handig, voordat hulle die Adelaide Tambo-saal in Mhluzi verlaat het.

In die eerste van vier kwellende kopsere vir die munisipaliteit is agt amptenare Maandag geskors weens ’n ondersoek na beweerde salarisongerymdhede in die finansiële kantoor van die munisipaliteit.

Daar is onder meer gevind dat daar al oorbetalings in verskeie personeellede se salarisse die afgelope twee jaar was.
Nege persone is in die ondersoek geïdentifiseer, waarvan een oorlede is.

Die munisipaliteit soek nou na die “skuiwergat” in die finansiële-sisteem van die munisipaliteit wat dit moontlik gemaak het om betalings op ’n dooie werker se personeelbesonderhede te maak.

Volgens ’n betroubare bron het een werknemer betrokke by die ondersoek maandeliks, oor ongeveer twee jaar, ’n addisionele R70 000 in die sak gesteek.
Die korrupsie het gedurende die stakings, en Covid-19 pandemie, waartydens personeel hoofsaaklik van die huis af gewerk het, kop uitgesteek.

Die skorsing van die agt personeellede is Dinsdag gevolg deur ’n raadsbevel dat twee top munisipale amptenare voorlopig geskors word, hangende die ondersoek teen hulle.

Die bestuurders word ondersoek vir tender en betalingsaangeleenthede met betrekking tot die bou van die Mhluzi substasie, ’n lening van R20 miljoen aan die National Empowerment Fund deur die munisipaliteit, sowel as die PPP Sekuriteitskontrak wat tydens die staking toegeken is, en eindelaaste gelei het tot die bloedbad by die burgersentrum waartydens ’n munisipale elektrisiën doodgeskiet, en vier ander ernstig gewond is.

Die munisipaliteit staar nou miljoene rande se eise in die gesig weens die skietery, wat tot die vertrek van waarnemende munisipale bestuurder Thokozile Zulu gelei het.

Zulu is ook steeds in ’n arbeidstryd met die munisipaliteit gewikkel nadat Mandla Mnguni in haar plek deur die raad as munisipale bestuurder aangestel is, ten spyte daarvan dat sy die hoogste punte tydens die onderhoudspaneel gekry het.

Sy het reeds ’n arbitrasie-stryd verloor, en wend haar nou na die arbeidshof.

Die Middelburg en Hendrina Inwoners Front het van dag een af kapsie teen die konstruksie van die Mhluzi substasie gemaak, met die saak wat selfs in die hof gedraai het.

Volgens die Front is die substasie ’n wit olifant omdat Eskom lankal reeds gesê het dat hy nie aan die kragnetwerk voor 2025 gekoppel kan word nie, weens die landwye druk op die kragnetwerk.

Speaker van die raad, die MHRF seThato Mathunyane het die raadsbevel van die skorsings bevestig en gesê die ondersoek kan nie in die teenwordigheid van geskorsde amptenare geskied nie.

“Daar moet nou volle deursigtiheid wees,” sê hy.

Die ondersoek werp ook lig op die onlangse diefstalle by die munisipale argiewe waar tender dokumente, finansiële state en bestuursverslae verdwyn het.

Die omvang van die diefstal by die argiewe, en watter munisipale transaksies daardeur geraak word, kon nog nie bepaal word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button