Wie het sjout by die koffie gegooi?
Beskuldigende gedagtes het gou in die munisipaliteit se rigting gedraai toe ’n inwoner vra waarom die dorp se water so sout was.

Ekke isse ou Marthinus
Ek hette die maat
Ons het mos saam
Daar by Duitswes gepraat
Ons klim by die water
Dit is nie so mooi
Wie het die gif by die koffie gegooi?
Wie maak die koffie
Wie is die kok
Wie het die koffie
So lekker laat skop?
Fanus Rautenbach se liedjie “Sjeef by die koffie” het Suid-Afrikaners in die sestigerjare aan die sing en skater gehad.
Die afgelope naweek is daar eers gewonder en toe gegiggel oor die “sout by die koffie”.
“Wie het die sout by die koffie gegooi?”
’n Inwoner het op een van die gemeenskapsgroepe gevra “waarom is die dorp se water so sout?”
Haar koffie was pure soutwater.
Natuurlik is die beskuldigende gedagtes gou in die rigting van die munisipaliteit gedraai.
Oomblikke later het die klaer laat weet: “Ag my water is reg, my man het sout in die suikerpot gegooi, ek het nie geweet nie”.
Dit was nie die enigste plasing wat inwoners laat regop sit het nie, daar is ook na die eienaar van ’n slang gesoek!
Fanus se liedjie was sewende op die treffersparade. Hy het die liedjie geskryf na aanleiding van ’n diplomaat wat gekla het dat daar gif in sy koffie gegooi is.