News

Reuse mediese uitgawes betaal, eier vir eier

Haar naam is nie verniet Smiley nie!

Die altyd-glimlaggende-instelling van Pienaardam het die laaste paar weke reuse gesondheidsuitdagings oorkom.
Maar hoe eet jy ’n olifant? Stukkie vir stukkie.

Dit is presies wat gedoen is om Smiley se groot mediese uitgawes te dek.
Daar is selfs eiers verkoop om die R300 000 te delg.

Smiley (Antoinette) de Lange is geopereer om twee gewasse te verwyder en sy glo dit is net genade van Bo dat alles so goed afgeloop het.

Sy het twee gewasse gehad wat op haar slukderm gedruk het en sy is verlede Woensdag in die Pretoria Oos Hospitaal geopereer, waartydens die chirurg nie net die gewasse nie, maar ook haar skildklier verwyder het.

Die lang sny en die pyn ten spyt, is haar alomteenwoordige glimlag steeds op haar gesig.
“Ek haal beter asem, voel goed en is baie positief.”

Smiley werk al 26 jaar by Pienaardam Ontspanningsoord as funksie-koördineerder en het die afgelope paar jaar agtergekom sy het ’n knop in haar nek.
In Augustus hierdie jaar het sy gevoel sy kry nie asem nie en is in die Middelburg Hospitaal opgeneem. Sy het bloeddruk en medikasie gekry, maar nie beter gevoel nie.

Haar pa, Hans de Lange, het besluit om ’n tweede opinie te kry en hulle is na ’n spesialis in Pretoria, wat haar dadelik na die chirurg, dr. Pierre Marais verwys het.
Skanderings het gewys sy het twee groot gewasse in haar slukderm en buiten dat dit teen die slukderm gedruk het, het die grootste een ook afgeskuif in haar bors.

’n Operasie was al uitweg, maar omdat sy nie ’n mediese fonds het nie, het die meer as R300 000 soos ’n berg voor haar gelê.

Die personeel van Pienaardam het ingespring om te probeer help en Venessa van Niekerk het selfs eiers verkoop.
Hulle het ook ’n vakansie geborg by die besondere Elands River Lodge in Marble Hall, waar mense deur middel van lootjies ’n naweek kan wen.

Die operasie kon egter nie uitgestel word nie en is ’n groot bedrag geleen sodat Smiley verlede week in die Pretoria Oos Hospitaal geopereer kon word.

Alles wat tydens die operasie self gebeur het, was een groot wonderwerk, soos byvoorbeeld dat haar borsbeen nie gebreek moes word om die grootste gewas uit te haal nie.

Na die operasie is sy dadelik in die intensiewe eenheid geskuif en was sy ook op ’n ventilator, omdat die dokter bang was dat haar slukderm se spiere kon verslap het weens die drukking.

Saterdag is sy uit die intensiewe eenheid geskuif en Maandag is sy huis toe.

“Ek wil net een groot dankie sê vir vanaf my pa tot die personeel van Pienaardam en die mense wat tot nou toe bydraes gelewer het. Ek dink nie julle weet hoeveel dit vir my beteken nie.”

• Daar is nog derduisende rande wat verhaal moet word en mense kan nog bydraes lewer.

Die trekking vir die naweek vir ses persone by Elands River Lodge is eers more (Vrydag) om 12:00 en mense kan nog teen R100 ’n kaartjie van die lootjies bekom.

Vir navrae rakende die lootjies of om bydraes te lewer vir Smiley se mediese kostes, bel Venessa by 082 563 5631.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button