News

Dwelmsakkies ‘waai die wêreld vol’

“Ons kinders speel daar,” het ’n ma omgekrap gesê.

Inwoners is keelvol vir dwelmslawe wat dwelms gebruik en dan hul dwelmsakkies in die parkie tussen Kogel- en Hoogstraat gooi.

“Ons kinders moet daar speel, maar daar lê altyd dwelmsakkies rond. Met die wind, het die sakkies, met van die wit poeier nog daarbinne, tot teen ons mure en by my erf ingewaai!” het ’n ma (wat anoniem wil bly) omgekrap gesê.

• In Maart hierdie jaar is berig hoe ’n dwelmverslaafde homself voor voetgangers in dieselfde area gespuit het, nadat hy ’n gat gesny het in die groot Spur advertensiebord.

Daar is gesê dat die area op die hoek van Meyerstraat, tussen Hoog- en Kogelstraat in Mineralia “’n dwelmhool is waar daar daagliks transaksies plaasvind. Die hartseerste is dat kinders van Laerskool Staatspresident C.R. Swart elke dag daar verbyloop!”

’n Ooggetuie het destyds gesê dat sy verskeie dwelmtransaksies al daar sien plaasvind het.

• Regdeur die dorp is daar bykans daagliks klagtes van verslaafdes wat hulle voor mense spuit en transaksies doen.
“Daar word al vir jare transaksies gedoen in die straatjie agter die Tosca Sentrum in Kanonkop,” het me. Elna Lewis hierdie week gesê.

Sy het haar seepbesigheid verlede jaar na haar huis toe geskuif oor die gemors wat haweloses en verslaafdes voor en agter haar winkel gelos het.
“Die polisie doen niks aan die probleem daar nie.”

Inwoners in die omgewing sê daar word daagliks transaksies gedoen in die kort straatjie agter dié sentrum.

Daar word vertel hoe voertuie langs mekaar stop en die transaksies sommer deur die vensters gedoen word.
As verslaafdes te voet kom, klim die handelaars selfs uit om hulle met dwelms te help.

’n Bron het vertel hoe ’n “Nigeriër” in ’n swart VW Golf “stop en aan die verslaafdes verkoop. Hy doen al jare transaksies daar.”

Me. Lewis, wat jare gelede een van die stigterslede was van die Oorwinnaars dwelmgroep en die afgelope paar jaar deel is van die Chain Breakers-groep, werk al jare met verslaafdes en is bekommerd hoe erg die dwelmprobleem geword het.

Sy sê dat dit nie net agter die Tosca Sentrum is waar daar ’n probleem is nie, maar in die aande, wanneer die besighede toemaak, word daar voor die sentrum en in die parkie transaksies gedoen.

“Ek is veral bekommerd oor Laerskool Kanonkop se kinders wat daar verby loop en alles sien. Daar kom ook baie kinders van die swembad se kant af na die sentrum toe en word blootgestel aan die dwelmhandelaars.”

• Me. Lewis het twee weke gelede in Joubertstraat buite die Familiedokters in die straatparkering gestop, omdat daar nie parkering was nie.

“’n Verslaafde het oorkant die pad, aan Laerskool Middelburg se kant, op die sypaadjie gesit en homself gespuit. Ek het vir hom gekyk, maar hy het nie omgegee nie. Dit was omstreeks 15:00 en daar was nog baie aktiwiteite by die skool aan die gang!”

Omdat sy baie met verslaafdes werk, het hulle vir haar gesê dat die meeste verslaafdes ook nou deesdae dwelmhandelaars word.

“Hulle word handelaars, want dan kry hulle geld om hul eie verslawing aan die gang te hou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button