News

Inbrekers skuil in donker hoekies voor hulle huis stroop

’n Gesin glo inbrekers het weens die straatligte wat af is in Tulipstraat, genoeg tyd gehad om hulle vanuit donker hoekies dop te hou en later in te breek.

Marinda Willemse sê hulle het eers Sondag omstreeks 07:00 gesien daar is by hulle ingebreek.

“Hulle het alles so mooi netjies gedoen, dat ons eers toe ons die skootrekenaars nodig gehad het, gesien het dit is weg!”

Me. Willemse vertel dat hulle besig is om by hul huis in te trek, maar tans nog in ’n woonstel bly om alles binne reg te kry.

“Ek is net dankbaar hulle het niks aan my sewentienjarige seun gedoen nie, want hy slaap alleen in die huis en ek en my ma is nog in die woonstel. Hulle was by hom in die huis!”

Me. Willemse is van mening dat die die booswigte Saterdagaand in die tyd wat haar seun by hulle kom eet het, al die diefwering gaan knip het.

“Ons het hondjies en as hulle die diefwering geknip het in die nag, sou die honde geblaf het. Hulle het tydens die inbraak egter glad nie geblaf nie!”

Haar seun het omstreeks 20:00 Saterdagaand by hulle in die woonstel kom eet en is net na 21:00 terug die huis in.

Me. Willemse onthou dat sy hul hondjies uitgevat het omstreesk 20:30 en dat die honde dadelik aggressief na die kant toe geblaf het waar daar deur die nag ingeklouter is.

Die bure se honde het ook geblaf en sy het nie notisie geneem nie en die honde teruggeroep.

Hulle was Sondag al 05:00 op, maar niks het uit hul plek gelyk nie en hulle het in die huis aangegaan met hul dagtakies.
“Ek werk van die huis af met my skootrekenaars, ’n Aces en ’n HP, en het later die oggend gesien dis weg.”

Hulle het dadelik ondersoek ingestel en toe eers opgemerk dat die venster oopstaan en dat die diefwering oopgeknip en opgedruk is.

Wat haar kriewelrig laat voel, is dat die boewe nonchalant een of ander tyd ’n stoel op die stoep van die woonstel gaan haal en voor die venster by die huis gesit het, sodat hulle makliker in die huis kon inkom.

Albei die skootrekenaars was op ’n tafel waar daar met dit gewerk is en dit moes die inbrekers ’n tydjie gevat het om alles bymekaar te maak.

“Hulle het álles van die skooterekenaars gevat, tot die muise, en dit in die skootrekenaarsakke gepak om saam te vat.”

Daar het ook twee Skyworth televisies, wat nog nie opgekoppel is in die huis nie, gestaan, wat hulle doodluiters saam deur die venster getel het.

“Dit laat ’n mens so blootgestel voel, maar hulle gee nie om nie. Dit het ’n hele rimpeleffek, want ek moet nou al my werk oordoen! Die inbrekers gee egter nie om nie! Dit gaan waarskynlik seker maar net vir hul volgende fix!”

Me. Willemse is oortuig dat dit moontlik dwelmverslaafdes kon wees wat ingebreek het.
Sy wil ander inwoners waarsku om meer oplettend te wees.

“Baie van ons is onoplettend, want ons dink nie soos kriminele nie! Daar is byna geen straatligte in Tulipstraat wat werk nie en hulle het genoeg tyd gehad om ons uit al die donker hoekies dop te hou!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button