Rugbyfamilie se bos word erg uitgekap
Die oud Suidoos-Transvaal Rugby-unie het nog een van sy legendes aan die dood afgestaan, met die afsterwe van Odie Odendaal (67).

Odendaal was ’n skitterende voorspeler wat vir Suidoos se o/20 span uitgedraf het. Hy het onder andere teen die destydse Rhodesië (Zimbabwe) vir die o/20 span gespeel.
Hy het ook vir jare die maroen trui van Ferrometals oor die kop getrek en was ’n vertroueling van wyle Gert Grobler, Suidoos spanbestuurder.
Die laaste paar jaar is verskeie bekendes in Suidoos-Transvaal rugbykringe oorlede, waaronder Mara Myburgh, die vrou van Arrie Myburgh, wat verskeie wedstryde vir die Blesbokke (Suidoos se B-span) gespeel het. Mara was een van die raakvat vroue by die Suidoos-Transvaal Rugby-unie en Witbank Rugbyklub.
Bekende rugbyspelers wat oorlede is die laaste paar jaar is Kallie Grobler, Harry Muller en Klasie la Grange, almal lede van die span wat die Westelike Provinsie in 1983 in die Lionbeker geklop het.
Odie het op Carolina groot geword maar na skool na Witbank verhuis.
Sy broer, Dirk, het aan die Middelburg Observer vertel dat Odie vir lank ’n stryd teen veelvuldige sklerose gevoer het.
“Hy het ook gely aan suikersiekte en sy been moes onlangs onder die knie geamputeer word.”
Die diabetes en sklerose het sy gesondheid geknou en hy is Dinsdagnag in die hospitaal oorlede.
Odie was wel bekend op Middelburg, veral in rugby-kringe.
Hy word oorleef deur sy vrou Letitia, dogter Chané, sy broer en drie susters.
Begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.