News

Ian was altyd positief en vol grappies

Ian Brits (65), die man met die gepaste bynaam, “Bubbles” wat met sy joviale geaardheid enige vertrek kon ophelder, is gisteroggend omstreeks 05:00 by sy huis in Morkelstraat oorlede.

Sy seun, Cobus, sê sy pa het die afgelope vier maande dialise gekry vir nierprobleme en dat hulle vermoed dat sy nierprobleem die oorsaak was van sy afsterwe.

Ian was ’n gebore en getoë Middelburger en het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Middelburg voltooi en later matrikuleer aan Hoërskool Middelburg.
Sy ou klasmaats sal onthou hoe ’n bedrewe tennisspeler hy op skool was.

Na skool is hy eers na Tukkies en later na NKP waar hy sy vrou, Karin, ontmoet het.

Ian begin as onderwyser by Middelburg Primary School waar hy die Collisens Rugby-aand destyds saam met Peter Sill begin het.
Hy sluit daarna by sy pa, Jannie, en broer Michiel, aan as makelaar by Sanlam.

Ian het egter ’n passie gehad vir kos en spyseniering en maak deel uit van die destydse Chuckwagon waar almal altyd saam met hom tot laatnag gekuier het.

Kort daarna sluit hy aan by die span van Bidvest Frozen & Dried Foods waar hy vir meer as 20 jaar vir restaurante tot slaghuise in Mpumalanga voorsien het.
Met sy liefde vir spyseniering het hy ook sy eie spysenieringsbesigheid, genaamd “Let’s Talk Catering” bedryf.

Cobus het sy pa beskryf as “bol liefde, ’n ongelooflike positiewe mens, wat almal aangeraak het met sy positiewe geaardheid. Hy was ’n sprankelende persoon en wou mense altyd om hom wees. My pa kon ’n partytjie tot laatnag aan die gang hou, sonder dat hy ’n druppel gedrink het. Hy kon enige moeilike situasie ook in iets positiefs omskep.”

Hy onthou ook hoe ’n goeie organiseerder sy pa was. “As jy iets gedoen wou hê, kon jy hom vra. Hy was baie betrokke by gholfdae van skole en ook by die NG Kerk Suid gemeente.”

Sy pa as sportfanatikus sal hom ook altyd bybly. “Hy het álles geweet van gholf tot tennis, rugby en krieket!”

Ian word oorleef deur sy vrou, Karin, kinders Eliska en Cobus, skoonkinders Stefan en Sumarie, kleindogter Reine, en broers Hannes en André.

• Alhoewel die gedenkdiensreëlings nog nie gefinaliseer is nie, beoog die familie om dit Dinsdag om 11:00 uit die NG Kerk Suid gemeente te hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button