News

Prokureur Danie Koekemoer verloor stryd na vyf maande in hospitaal

Mnr Koekemoer is vyf maande gelede in die hospitaal opgeneem vir verskeie mediese uitdagings, insluitend hartprobleme.

Die bekende plaaslike prokureur Danie Koekemoer is vanoggend omstreeks 06:00 oorlede.

Daar is op ’n WhatsApp-groep wat begin is sedert hy vyf maande gelede in die hospitaal opgeneem is aangekondig: “Dit is vreeslik hard om vanoggend te sê, moeilik om asem te haal en nog moeiliker om te glo, maar Danie het vanoggend net na 6:00 gegroet en na sy Hemelse huis gegaan. Mag hy sag rus by Jesus se voete”.

Mnr. Koekemoer se pa, Piet, was ’n vooraanstaande staatsaanklaer wat laterjare sy eie praktyk in Middelburg op die been gebring het.

Danie het in sy pa se voetspore gevolg, en tot en met sy afsterwe sy regspraktyk bedryf. Voordat hy sy eie praktyk begin het, het hy vir jare saam met Leon van den Berg by Van den Berg en Koekemoer Prokureurs regssake hanteer. Hy was ook die voormalige voorsitter van die plaaslike prokureursorde.

Hy het onder andere mediareg bestudeer en as spreker opgetree by die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se streekseminaar.
Die laaste paar jaar het hy uitgeblink in supermotorfiets wedrenne en ’n groot motorfiets entoesias geword.

Hy was sedert die begin van Juliemaand vanjaar in die hospitaal met verskeie mediese uitdagings waaronder hartprobleme.

Mnr. Koekemoer was lank na sy opname in die hospitaal onder sedasie en in ’n mediese koma.
Hy is onlangs bygebring. Sy toestand het somtyds verbeter maar dan het hy weer ’n paar dae later ’n terugslag gehad.

Terwyl hy in die hospitaal was het ’n brand ook groot skade aan sy plaas aangerig naby Groblersdal.

Mnr. Koekemoer sou moontlik die week vir rehabilitasie gestuur word, maar het so verswak dat hy nie die gebruik van sy arms of bene gehad het nie.
In ’n laaste boodskap is daar gesê dat die masjiene wat mnr. Koekemoer aan die lewe gehou het “100% al sy liggaamsfunksies oorgeneem het.”

Hy het vanmore omstreeks 06:00 in die Pretoriase Wilgers Hospitaal beswyk.

• Lees meer oor mnr. Koekemoer in die week se uitgawe van die Middelburg Observer.

You can read the full story on our App. Download it here.
Check Also
Close
Back to top button