News

Vroue fietsryers vertel: “Só is ons met messe aangeval”

’n Aanvaller het Saterdag verskeie kere gewelddadig na ’n vroue fietsryer met ’n mes gesteek, terwyl sy en ’n vriendin op die Tarries Bergfietsbaan gaan oefen het.

Dit is ’n wonderwerk dat die messteek wat haar bors binnegedring het, lewensbelangrike organe gemis het.

Die vroue het vanoggend oor hulle nagmerrie ondervinding gepraat.

Drie tienerseuns het met messe op die twee fietsryers toegesak. Yvonne Swanepoel (42) is in die bors raak gesteek.

Yvonne en haar vriendin, Liesl Meyer, het soos oudergewoonte, Saterdagoggend om 08:30 by die Tarries Bergfietsbaan gaan oefen, en was by die boonste gedeelte van die baan, waar die hindernisse meer tegnies is.

“Die area is baie bebos, maar dit is wat dit so lekker maak. Om in die natuurskoon te kan oefen,” het Liesl vertel.

Yvonne en Liesl het enkelgelid gery toe Yvonne se pedaal ’n boomstomp tref en sy val.
Liesl het langs Yvonne gestop om haar op te help toe drie jong seuns op hulle afgestap het.

“Hulle was bitter jonk, tieners, maar mens kon in hulle gesigsuitdrukkings sien – hier kom moeilikheid.”

Die ouer een van die seuns het Yvonne se fiets gegryp, en die twee het begin stoei om besit van die fiets.
“Yvonne was op daai stadium nie bewus van die mes nie, en ek het toe verskriklik begin gil, ‘los die fiets!’”

Dit was toe dat die rower gewelddadig begin het om na Yvonne te steek, hy het haar in die linker bors, net onder die sleutelbeen, raakgesteek.

“Dit was skokkend om te aanskou. Dit is iets waarvoor mens nooit kan voorberei nie, ek het net versteen. Jy dink nie aan wat om te doen nie, instink neem oor,” het Liesl gesê.

Met die messteek het Yvonne haar fiets gelos, en die oudste seun het dit gevat. Hy het toe vir een van die jonger aanvallers gesê om Liesl te takel.

“Hy het ook ’n mes aan hom gehad, maar mens kon sien hy was bang. Sy oë was so groot soos pierings, mens kon sien hy wou nie, hy was baie onseker.”
Toe hy vir Liesl mik, het sy nader gestaan eerder as om terug te deins, en dit het hom afgeskrik.

“Hy het toe saam op die fiets geklim en hulle het weg gery, terwyl die derde een te voet gevlug het,” het Liesl vertel.

Liesl het dadelik ’n kennis wat naby woon gebel, en hy het Yvonne hospitaal toe gejaag.

Vir Yvonne, het alles te vinnig gebeur.

“Ek kan nie werklik onthou hoeveel keer hy na my gesteek het nie, net dat hy my een keer raakgesteek het.”

Met haar aankoms by Life Midmed Hospitaal is daar skanderings gedoen om te bepaal hoe ernstig die messteek was.
“Hulle het vir my ’n inspuiting en steke gegee. Ek is nog die selfde dag ontslaan.”

Hoewel die voorval vir Yvonne ’n nare ondervinding was, bekommer sy haar egter oor die veiligheid van alle fietsryers, veral kinders.
“Ek wil maar net ander mense waarsku om versigtig te wees. Veral gegewe met hoeveel geweld die seuns opgetree het.”

Vir beide Liesl en Yvonne is dit hartseer dat Tarries, wat ’n groot aanwins vir die dorp se sportgemeenskap is, so onveilig geraak het danksy die ongure karakters wat daar rond dwaal.
Beide het die Middelburg Fietsryklub se lof besing vir hulle moeite om die baan op te rig en in stand te hou.

“Die hoof rede hoekom ons fietsry is om buite te kom. Ek wil nie na ’n gimnasium toe gaan, of op ’n stilstaande fiets oefen nie. Mens wil die natuur geniet. Mens kan ook nie meer in die pad ry nie, want dan word jy raak gery,” was beide vroue se sentimente.

Volgens Liesl is die baan so gewild, dat selfs vriende van Durban daar ry wanneer hulle kom kuier, “ons sal hulle nie meer daarheen kan neem nie, want die misdaad het ons van ons vryheid ontneem.”

• ’n Saak is by die Middelburg Polisiestasie geopen.

 
Back to top button