News

Lyk in bagasiebak: “Beskuldigdes is harteloos en gevaarlik”

Ondersoekbeampte getuig van gewetenlose wreedheid

Danie Maritz (27) is eers met ’n mes gesteek en daarna is sy keel afgesny.

Dit was die getuienis van die polisiebeampte, sers. Osia Banze (Middelburgse ondersoekbeampte), as deel van die redes waarom hy borg teenstaan vir Alex Grobler (44), Jan Jordaan (26) en Angie Appelgryn (26).

Grobler het gesê hy is aangerand en gedreig om ’n bekentenis af te lê, terwyl Jordaan sê hy is aangerand nadat hy ’n verklaring afgelê het.

Appelgryn het gesê sy is aangerand en aangesê om ’n leë dokument te teken met die belofte dat hulle die volgende dag haar verklaring sou neem. Volgens haar is die verklaring nooit geneem nie.

Sy het erken dat sy saam met die groep by die betrokke besigheid was toe Danie doodgemaak is.

Danie Maritz is tussen Woensdagnag en Donderdagoggend vermoor.

Sy het egter gesê dat sy nie naby was toe hulle hom doodgemaak het nie. Appelgryn het ook erken dat hulle alkohol die aand gebruik het.

Na Appelgryn se getuienis het sers. Banze, wat al 19 jaar verbonde is aan die polisiediens, aan die beurt gekom.

Sers. Banze het gesê hy staan borg tee op grond van die wreedheid waarop mnr. Maritz doodgemaak is en die feit dat hulle daarna van sy lyk ontslae geraak het.

Hy het dit ook duidelik gestel dat die staat ’n getuie het en dat die getuie reeds tydens die moord saam met een van die beskuldigdes, Appelgryn, gedreig is.

Om die staat ’n blik te gee op die gebeure, het sers. Banze vertel wat die aand gebeur het volgens inligting wat hulle van ’n getuie gekry het.

Jan Jordaan.

Daar is gesê dat Danie verlede Woensdagaand saam met Jordaan en ’n ene ‘Kobus’ (wat nog nie gearresteer is nie) na die perseel in Middelburg is om koper te verkoop.
By die perseel het daar klaarblyklik ’n argument ontstaan tussen Danie (oorledene), Jordaan en ‘Kobus’.

Die getuie het ook gesê dat Jordaan en ‘Kobus’ daarna vir Danie met ’n mes gesteek het en ‘Kobus’ sy keel gesny het.

“Dit het alles voor beskuldigde drie, me. Appelgryn, plaasgevind,” het sers. Banze gesê.

Hy het getuig dat Appelgryn en die staat se getuie deur ‘Kobus’ en Jordaan gedreig is, dat sou hulle iets daarvan sê, “dieselfde met hulle sou gebeur”.

Daarna het ‘Kobus’ en Jordaan die perseel verlaat en die oorledene agtergelaat saam met Appelgryn en die getuie.

Angie Appelgryn.

“Sy het begin bel om van die liggaam ontslae te raak.”

Aldus sers. Banze het Appelgryn vir Grobler gebel en ook gery om hom in eMalahleni te gaan haal.

Hy het gesê dat hulle die liggaam in Appelgryn se voertuig gelaai het.

Volgens sy getuienis het Grobler daarna met die liggaam in Appelgryn se voertuig gery en wou hy eerse op ’n ander plek van die liggaam ontslae raak.

Hy is egter “gepla” deur ’n polisiebeampte (daar is nie uitgebrei presies wat gebeur het tydens dié gebeure nie).

Sers. Banze het getuig dat Appelgryn intussen aanmekaar begin bel het om uit te vind hoe ver Grobler was.

Sy het klaarblyklik ook petrol gevat om die voertuig aan die brand te steek.

Sers. Banze sê Grobler het daarna die voertuig naby ’n myn in Clewer gestop en dit aan die brand gesteek.

Alex Grobler.

In sy getuienis het Banze genoem dat Grobler intussen instruksies gekry het van Appelgryn om terug te gaan na die voertuig, die liggaam uit te haal en die voertuig te verwyder.
Met Grobler se terugkeer, was die polisie reeds op die toneel.

Hy sê terwyl die polisielede en forensiese afdeling op die toneel was, het hulle ’n oproep vanaf die Vosman polisie gekry dat daar iemand is wat sê haar voertuig is gesteel.
Die polisiebeampte het onraad vermoed, omdat dit dieselfde tipe voertuig was wat uitgebrand het.

Die aanklaer, mnr. Rehan Lourens, het vir sers. Banze gevra of hy teenwoordig was tydens enige beweerde aanranding.

Sers. Banze het egter gesê dat hy eers op 21 November die dossier oorgeneem het en dus geen kennis dra oor enige beweerde aanrandings nie.

“Weens die erns en die manier waarmee die misdaad gepleeg is, asook die harteloosheid hoe dit gedoen is, is dit nie geskik vir die beskuldigdes om in die gemeenskap te wees nie.”
Hy het ook gesê dat as hulle borg kry, dit ’n gevaar vir die staat se getuie inhou.

“Hulle kan vernietig en selfs moor en weet hoe om ’n moord te verdoesel. Daar is reeds een verdagte wat nie gevang is nie, ons weet nie waar hy is nie. Hulle almal saam is gevaarlik.”
Sers. Banze het dit ook duidelik gestel dat dit tyd neem om ’n getuie vir die staat in getuiebeskerming te plaas.

• Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, adv. Petrus Ntuli, het verskeie kere melding gemaak dat sers. Banze eers op 21 November die dossier gekry het en dus nie self die saak tot op hede ondersoek het nie.

Hy het ook vir sers. Banze daarop gewys dat die beskuldigdes beserings opgedoen het nadat hulle na bewering deur die polisie aangerand is.

Sers. Banze het gesê dat hy geen kennis dra daarvan nie.

Hy het ook vir sers. Banze gevra op grond waarvan hy kan sê dat hulle harteloos is, waarop sers. Banze gesê het dat dit na aanleiding van die feite van die saak is.

“Hulle het saam beplan om van die liggaam ontslae te raak. Hulle het nie omgegee dat bewyse vernietig word nie.”

Sers. Banze het ook gesê dat Appelgryn nie gebel het vir hulp nie, maar dat sy verder gegaan het en ’n vriend gebel het om haar te help om van die lyk ontslae te raak.
“Hulle is die vrot aartappels in die gemeenskap!”

• Daar word vanmiddag voortgegaan met kruisondervraging deur die verdediging vir die borgaansoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button