Drie goud vir onderwyseres
’n Oudleerling van Hoërskool Kanonkop, Calinka Kotze (van den Bergh), het drie goue medaljes losgehardloop tydens die 14de Ope Afrika Meesters Atletiek kampioenskappe.
Die kampioenskappe is vanaf Donderdag tot Saterdag in die Pilditch Atletiekstadion in Pretoria aangebied.

Atlete van onder andere Burundi, Duitsland, Kenia, Australië en Estonia het deelgeneem.
Calinka (Nedbank Atletiekklub) het ook vroeër die jaar drie medaljes tydens die Suid-Afrikaanse meesters kampioenskappe in Kaapstad verower. Sy het die SA titel in die 5000m haar eie gemaak, ’n silwer medalje in die 1500m gewen en in die aflositem brons verower.

Op pad na drie goues in die kategorie 40+ by die Afrika kampioenskappe moes sy Varkgriep en Covid-19 oorkom.
Tydens die 5000m Donderdagoggend het sy haar eerste goue medalje verower en dit opgevolg met goud in die 1500m en nog ’n goud Vrydagmiddag in die landloop item.

Haar loopbaan het reeds by Laerskool Dennesig begin toe sy ’n brons medalje tydens die Suid-Afrikaanse landloop kampioenskappe in Rustenburg verower het.
Die meeste van die middelafstand rekords op skolevlak het vir jare agter haar naam gepryk.

As hoërskool atleet het sy ’n silwer medalje in die 3000m en brons medalje in die 5000m gewen by die Suid-Afrikaanse Junior kampioenskappe.
Calinka (42) is ’n onderwyseres aan Die Rots postmoderne privaatskool in Linden.

