News

‘Visvang vir Jesus’ toe sterf sesjarige

’n Ouer moet nie ’n kind begrawe nie...

Kort nadat die sesjarige Rayden Rafferty die liedjie: “Visvang vir Jesus” gesing het, het hy inmekaar gesak en minute later gesterf.

Sy ma, Kristina Jansen van Rensburg, het snikkend gesê dat, alhoewel Rayden nierprobleme gehad het en ook epileptiese aanvalle gekry het, hy so bedrywig was soos enige ander kind.

Woensdag het hy al singend in die huis rondgeloop en die liedjes: “Visvang vir Jesus” en “Dawid en Goliat” gesing.

Kristina het gou iets buite die huis gaan haal en ’n slag gehoor.

Hulle het by die huis ingehardloop en het dit gelyk of hy weer ’n epileptiese aanval kry.

Rayden het opgehou asemhaal en Kristina se vriendin, Jackie Sinden, het begin om mond-tot-mond asemhaling te doen.

Hulle het weer ’n effense hartklop gekry, maar minute later was die hartklop weg.

“Ons het nogsteeds Middelburg Hospitaal toe gejaag, maar hy is met ons aankoms dood verklaar.”

Kristina vertel dat Rayden kort na sy geboorte met nierprobleme gediagnoseer is by die Steve Biko Hospitaal en medikasie daarvoor gekry het.

“Hy was nommer 105 op die lys vir ’n nieroorplanting. Hy is al twee jaar gelede op die orgaan-oorplanting lys gesit. Ek kon nie vir my kind ’n nier gee nie, want ons bloedgroepe was nie dieselfde nie.”

Sy het hartseer genoem dat daar nie genoeg organe is om mense se lewens te red nie.

“Ek wil by almal pleit om die dokumentasie in te vul dat hulle hul organe skenk as hulle sterf. Daar is soveel kindertjies, soos Rayden, wat wag vir organe soos niere.”
As sy haar spontane seuntjie moet beskryf, dan onthou sy hoe diep gelowig hy was.

“Hy het gereeld vir my gesê: ‘Mamma, daar staan Jesus.’ Die aand voor sy dood het ek hoofpyn gehad en hy het die olie gaan haal, my gesalf en gebid: ‘Jesus, vat asseblief Mamma se hoofpyn weg.”

Sy sê hy was ook “’n vrolike, Bubbly seuntjie, wat mal was oor die ‘Paw Patrol’ kinderprogram. Ek wil vir hom ’n Paw Patrol begrafnis reël, maar ek het eenvoudig nie die geld nie.”

Kristina is sedert Desembermaand ’n alleenouer vir haar twee seuns wat nog in die huis is. Sy kon nie gaan werk nie, omdat sy hulle, veral Rayden, voltyds versorg het.

Sy beplan om hom te veras en sy as by haar te hou.

Hulle wil ook graag ’n roudiens hou uit die Corpus Christi gemeente.

Al die kostes kan meer as R15 000 beloop en sy het paniekerig gesê dat sy nie weet hoe sy dit gaan bybring nie.

Hy word oorleef deur sy ma Kristina, broers en susters Bridget (25), Attie (19), Marina (17) en Robert (10).

Persone wat bydraes op enige manier wil gee (kontant, eetgoed, blomme of Paw Patrol artikels vir die begrafnis) bel Jackie by 072 042 3132.

Back to top button