Vriendelike adder sluit aan vir braai by Dennesig gesinnetjie
Die "hel-noedel" was egter so uitgeput dat hy net "ge-pffft" het toe hy skielik deur 'n braaitang opgeswiep is.
Dis so warm, selfs die area se slange soek koelte op plekke waar dinge nog warmer kan raak vir reptiel se kind.
En, terwyl mens gewoonlik ‘n skilpadjie of pofadder tussen die braaitang se knypers verwag, het ‘n nagadder vanmore in ‘n Dennesig gesin s’n beland.
Me. Sandy-Lee du Toit vertel dat sy omstreeks 09:30 vanmore oudergewoonte op haar stoep buite haar woonstel gesit en rook het, waar die kinders op ‘n matras, net sentimeters van die slang baljaar het.
Die “hel-noedel” was egter so uitgeput dat hy net “ge-pffft” het toe hy skielik deur ‘n braaitang opgeswiep is.
Tyd vir baklei was daar nie, ook maar gelukkig vir me. Du Toit.
‘n Adder is nie ‘n mens se maat nie.
Me. Du Toit vertel dat sy ‘n plaasmeisie is en gewoond is aan slange.
“Mens verwag egter nie die ding by jou voete nie.”
Volgens me. Du Toit het sy bloot haar wederhelf sien opspring en kombuis toe hardloop.
Toe hy terugkeer met die braaitang en daarmee beduie na die opgerolde reptiel langs die stoep, het die plaasdae ingeskop.
“Ek het hom opgetel en na die veld oorkant die pad gestap waar hy vrygelaat is.”
Volgens haar was die slang rustig en niks lus vir pik nie.
Haar woonstel is in Leydslaan reg oorkant die veld.
“Hy was seker maar lus vir ‘n tjop en dop,” skerts me. Du Toit.
