Aanval by dam: Oor en oor geskop terwyl hy reeds bewusteloos was
Voor die oë van klein kindertjies het twee mans ’n ander man bebloed geslaan en hom bly skop, nadat hy reeds sy bewussyn verloor het.
“Nadat hulle hom in die kar gelaai het, het sy kop net vooroor gehang. Sy oogbanke, wange en ken was oop geslaan. Hy moes beslis steke gekry het na die aanval!” het ooggetuies van die aanranding gesê.
Verskeie kampeerders en hengelaars het hulle na die Middelburg Observer gewend om te probeer uitvind “of die man wat so aangerand is nog leef!”
Die gewelddadige aanranding het Sondag om 14:00 plaasgevind.
Daar is opgemerk hoe ’n groep mense van vroeg af saam gekuier het by ’n tent aan die visvangkant (aan die linkerkant) van die Middelburgdam.
’n Wit karretjie het ook kort-kort heen en weer in die grondpad rondgejaag.

Kort voor 14:00 het ’n man en ’n vrou vanaf ’n tent opgestap na die twee baksteen toiletgeboutjies, wat naby mekaar staan.
“Hulle was beslis onder die invloed, want hulle het mekaar regop probeer hou.”
Die volgende oomblik het ’n grys bakkie, sonder nommerplate, aangejaag gekom en by die toilette gestop.
Twee mans het uitgespring en daar is gesien hoe hulle die een toiletdeur probeer oopruk.
“Die vrou het van buite af deur die venstertjie geklim en aan die binnekant saam met die man die deur probeer toehou.”
Die aggressiewe mans aan die buitekant het egter die oorhand gekry en die vrou het weer na buite deur die venster geklouter.
Sekondes later het hulle die man wat in die toilet was, na buite gesleep en hom dadelik gewelddadig met die vuis begin slaan.
Die ooggetuies het opgemerk dat daar ook ’n wit karretjie by die toneel gestop het en dat ’n paar vrouens uit die kar geklim het.
Intussen het die vuishoue gereën op die man en het hy bewusteloos grond toe geval.
Dit het egter nie sy aanvallers laat stop nie en hulle het hom aangehou skop.
Van die kampeerders het die polisie gebel en mense het nader geloop en vir die aggresiewe mans gesê: “die polisie is op pad!”
Dit het die aanranders klaarblyklik effens tot hul sinne gebring en hulle het opgehou om die man te skop.
Hulle het ’n emmer uit die bakkie gegryp en na ’n kraan geloop waar hulle water getap en oor die man uitgegooi het.
Van die vroue het hom ook probeer bybring met die water.
Hy het egter nie heeltemal bygekom nie en hulle het hom aan sy hande en voete gevat en in die wit karretjie gelaai.
Sekondes later het die twee aanvallers in die Amarok gespring en die bakkie het met ’n spoed weggetrek.
Daar was klein kindertjies in die pad wat verskrik wegspring het toe die insittendes van die Amarok die toeter druk.
“Hulle het amper ’n klein dogtertjie raakgery!”
Beide die Amarok en wit karretjie het teruggejaag tot by die ingang van die dam, waar hulle terug dorp se kant toe gery het.
Die persone wat die polisie gebel het, het die polisie weer gekontak en laat weet dat dit nie meer nodig is om te kom nie, aangesien die aanvallers weg gejaag het.
“Die man wat aangerand is se vrou of meisie het daarna huilend afgeloop tot by haar tent en sy het die hele tyd: ‘My liefie, my liefie’ geprewel. Ek dink nie sy het geweet waarheen hulle met haar man is nie!”
’n Klein rukkie later het mense in twee Fortuners by die vrou wie se man aangerand is, se tent gestop, haar gehelp om die tent af te slaan, alles opgelaai en het hulle weg gery.
Een vrou het genoem dat sy mense wat na die toilet toe wou gaan waar die aanval plaagevind het, gekeer het.
“Die toiletgeboutjie binne en die hele area om die geboue was vol bloed!”
Niemand weet waarom die mans, wat in die Amarok bakkie was, so aggressief was nie.
“Niks wat die ander man kon gedoen het, regverdig egter dat hulle hom so erg moes aangerand het nie. ’n Klomp kinders, die meeste onder ses jaar, het gesien wat gebeur!”
• Die ooggetuies onthou dat een van die mans wat die man so aangerand het, groot gebou was, ’n blas vel gehad het in omtrent in sy middel veertigs was. Hy het ’n groen strepieshemp gedra.
Die ander man was kleiner gebou met ligte hare.
• Daar is van ’n afstand af foto’s en ’n video van die voertuie en die gebeure geneem deur ’n ooggetuie “wat nie wou nadergaan nie, want my en ons vriende se kinders was by my.” Dit is goedgunstiglik beskikbaar gestel vir publikasie.

• Enige persoon wat meer inligting het oor die aanval of weet hoe dit met die persoon gaan wat aangeval is, kan Daleen Naudé bel of WhatsApp by 072 248 3855. Alternatiewelik kan ’n e-pos gestuur word na daleen@mobserver.co.za.
• Laat verlede week was daar ’n bloedige mes-aanval op ’n 17- en 18 jarige seun by ’n huispartytjie. Lees die volledige artikel in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer.
@middelburgobserver Children witness a brutal assault on a man at the Middelburg Dam. The seriously injured man cannot be seen in the video as he is lying on the ground obstructed by the white car. It is unclear why the men seen in the video attacked the man, as they dragged him out of the bathroom to beat him. #crime #middelburg #middelburgdam
