Bekende sakeman sterf nadat hy gaan draf
Die geliefde André Henning (62) het Maandagoggend terwyl hy gedraf het by Roberts Landgoed inmekaar gesak en is later by die hospitaal dood verklaar.
Sy skoonseun, Gerrit van der Merwe, sê sy skoonouers, André en Joenita, het die oggend vroeg gaan stap en is daarna huis toe.
André het daarna besluit om nog ’n draai te gaan draf, soos hy gereeld graag gedoen het. Dit was omstreeks 06:00.
Gerrit vertel dat die sekuriteit hom in kennis gestel het dat sy skoonpa inmekaar gesak het en dat hy deur ’n persoon met die naam William (wat self gedraf het) gevind is.
William het dadelik die sekuriteit gebel, wat op hul beurt vir Gerrit gekontak het.
“Hy het nie ’n pols gehad nie en het reeds opgehou asemhaal toe ek daar kom. Ons het mond-tot-mond asemhaling gedoen en Dawie Roberts het met ons hospitaal toe gejaag.”
By die Life Midmed Hospitaal is noodbehandeling toegepas, maar hulle is kort daarna in kennis gestel dat André oorlede is. Gerhard vermoed sy skoonpa is dood nog voortdat hulle by die hospitaal was.
“Hy was perdfris en gesond en was ’n aktiewe persoon gewees. Ons weet sy saak met die Here was reg en ons is hartseer, maar ons het vrede, want ons weet waar hy is.”
Die meeste Middelburgers sal dié bekende sakeman onthou wat tot onlangs toe nog ’n direkteur was by die Nungu Property Group.
André word oorleef deur sy vrou, Joenita, dogters Joenita (jnr) en Leandri, skoonseuns Kurt en Gerrit, vier kleinkinders (drie seuns en ’n dogter).
Sy roudiens, wat die familie ‘‘’n Lewensviering van André Henning” noem, word Vrydag om 14:00 uit die NG Kerk, Suid gemeente, gehou.
Persone wat nie die diens kan bywoon nie, kan dit aanlyn volg by: https://youtube.com/live/brQwZiG3gyc?feature=share.
•Die dorp is die afgelope tyd in rou met die afsterwe van bekende inwoners waaronder Ian Brits, prokureur Danie Koekemoer, bekende in Beefmaster-kringe, boer en sakeman Leon du Toit.
