Man glo betrap met gesteelde bootenjins kry R2000 borg, verkas na Mosambiek
Die verdagte wat op borg vrygelaat is, is glo met die selfde boot en bakkie Woensdag oor die Lebombo grenspos.
Dit gons op WhatsApp oorgrens-veiligheidsgroepe nadat ’n 57-jarige Mosambieker, wat verlede Donderdag na bewering in besit van drie gesteelde bootenjins en ’n trokenjin betrap is, en op R2000 borg deur die Groblersdal Landdroshof vrygelaat is, net om Woensdagoggend die week gemaklik deur die Lebombo-grenspos na sy tuisland te ry.
Die man is verlede Donderdag na ’n wenk uit die gemeenskap gearresteer nadat lede van die Limpopo blitspatrollie die SAPD se misdaadinteligensie-eenheid, in samewerking met Gunmar Sekuriteit, hom by die Elandskraal-uitdraai op die N11 voorgelê het.
Volgens Gunmar is hulle verlede Woensdag in kennis gestel van twee bootenjins wat op ’n perseel op die Dewagendriftpad gesteel is.
CCTV kameras op die pad het gewys hoe ’n bakkie vanaf die perseel waar die enjins gebuit is, in die rigting van Avontuur gejaag het.

Met behulp van informante, het Gunmar ’n gesofistikeerde enjindiefstal komplot ontrafel.
Gunman is na ’n perseel in Dennilton waar informante beweer het, ’n man besig was om twee gesteelde bootenjins op ’n boot gehaak aan ’n bakkie, te laai.
Die informante het ook genoem dat die enjins bestem was vir Mosambiek.
Polisiespeurder en blitspatrollielede het patrollies in Dennilton begin na die wenk.
’n Man, wat die beskrywing van die informante gepas het, is opgespoor en dopgehou.
Nadat die man verlede Donderdag gesien is waar hy in die bakkie klim en met die boot op ’n sleepwa wegry, het die polisie besluit om hom voor te lê by die Elandsfontein-afdraai.
Drie gesteelde bootenjins en die trokenjin in tydens ’n deursoeking op die boot gevind.
Volgens informante is die gearresteerde man na bewering die meesterbrein van ’n sindikaat wat verbind kan word met diefstalle in Groblersdal, Marble Hall en die Loskopvallei.
Hy het Maandag in die hof verskyn waar R2000 borg toegestaan en die saak uitgestel is na 29 Januarie volgende jaar.

Na sy vrylating is die registrasie van die bakkie en boot nagegaan, en is daar bevind dat beide aan die verdagte behoort en op sy naam geregistreer is.
Die voertuie is toe aan hom terug oorhandig.
Volgens WhatsApps wat sedert gistermiddag in sirkulasie is, is die einste verdagte Woensdagmore net nadat die Lebombo grenspos oopgemaak het, daar deur Mosambiek toe met die bakkie en die boot.
Volgens Gunmar is hulle in kennis gestel dat daar na bewering gesteelde sonkragpanele en batterye op die boot deur die grenspos gesmokkel is.
Hulle het egter net te laat die inligting ontvang om die bestuurder voor te lê.
Beeldmateriaal wat van veiligheidskameras bekom is, wys volgens Gunmar duidelik dat dieselfde boot en bakkie wat tydens verlede week se operasie gekonfiskeer is, wel deur die grenspos is die week.
Daar word nou gewag op 29 Januarie om te sien of die verdagte ’n opwagting by die hof sal maak.
Dit is onduidelik wat se borgvoorwaardes aan die man deur die hof opgelê is, wat hom in staat sou stel om oorgrens tussen Suid-Afrika en Mosambiek te kan reis, terwyl hy kriminele klagtes in die gesig staar.
