News

“Kobus” in hof na bagasiebakmoord

Beskuldigde vier in die Danie Maritz moordsaak, Kobus Pretorius (32), het vanoggend weer vlugtig in die hof verskyn.

Pretorius het homself verlede week oorgegee en het op die dag wat uitspraak gelewer is in drie ander beskuldigdes se borgaansoek, vir die eerste keer saam met hulle verskyn.

Danie is die nag van 15 November of moontlik in die vroeë oggendure van 16 November in Middelburg vermoor en sy oorskot die volgende dag langs ’n myn by Clewer in ’n uitgebrande voertuig gekry.

Dieselfde dag wat die voertuig gekry is, is Alex Grobler (beskuldigde een) en Angelique (Angie) Appelgryn (beskuldigde drie) gearresteer. Jan Jordaan (beskuldigde twee) is die volgende dag by sy werksplek gearresteer in eMalahleni.

Jordaan het tydens ondervraging tydens die drie se borgaansoek, gesê dat Grobler en Appelgryn niks met die moord te doen gehad het nie.
Hy het ook gesê dat ’n ene ‘Kobus’ vir Danie doodgemaak het. Hy het getuig dat ‘Kobus’ gevlug het toe iemand hom en ‘Kobus’ gewaarsku het dat die polisie op pad is.

Jordaan word aangekla vir moord en Grobler en Appelgryn vir regsverydeling en vernietiging van ’n lyk.

Tydens landdros Christa Pohl se uitspraak in die borgaansoek vir Grobler, Jordaan en Appelgryn, het sy borg geweier vir Jordaan en borg toegestaan aan Grobler en Appelgryn.
Sy het streng borgvoorwaardes vasgestel.

Danie Maritz is in Middelburg vermoor en sy oorskot in ’n uitgebrande voertuig naby ’n myn in Clewer gevind.

Adv. Petrus Ntuli tree op as regsverteenwoordiger vir die drie.

• Pretorius het tydens sy eerste verskyning aansoek gedoen vir ’n staatsprokureur en die saak is uitgestel na vandag.

Landdros Pohl het ook in haar uitspraak gesê dat die beskuldigdes elke keer saam moet verskyn en Jordaan (vanaf die selle) en Appelgryn en Grobler was saam met Pretorius in die hof.
Die saak is uitgestel na Donderdag (7 Desember) vir die voortsetting van Pretorius se borgaansoek.

• ’n Foto van Pretorius, met die woorde: “Wanted” daarby, is sedert die arrestasie van Grobler, Jordaan en Appelgryn op Facebook rondgestuur. Die boodskap het onder andere gesê dat daar ’n beloning gegee sal word, sou Pretorius opgespoor word.

Dit was nie ’n gesoekte persoon foto wat deur die polisie gegee is nie, dit was ’n privaat boodskap.

Die boodskap by die foto het as volg gelui: “Reward OTS will be given to any person that will lead me to this rubbish.” Daar was ’n naam en nommer ook by die plasing.

Back to top button