KYK: Boewe kruip rond in Dennesigstraat erf
Dennesig inwoners is oor die naweek geteister deur nagsluipers nadat diewe gepoog het om by ’n motorhuis in te breek en daar oor mure en heinings gespring is.
’n Dennesig inwoner sê dat ’n bende boewe Sondagmore hard probeer het om by sy motorhuis in Koos de la Reystraat in te breek, maar gelukkig deur die eiendom se alarmsisteem afgeskrik is.
Mnr. Gert Janse van Rensburg het CCTV-materiaal verskaf waar gesien kan word hoe van die boewe rondom ’n werksbakkie, wat voor die motorhuis parkeer was, rond te kruip.
Hulle kon ’n ruk lank ongestoord rondkruip tot een van hulle ’n alarmogie in die erf geaktiveer het, terwyl een van hulle by die werksbakkie ingeloer het op soek na iets om te steel.
Hulle het toe straataf die donker in gevlug.
Mnr. Janse van Rensburg sê dat die inbrekers eers sy elektroniese hek oopgebreek het.
Die hek was ook met ’n slot gesluit wat afgeknip is voordat die hek se spoor gebuig, en die hek gemaklik oopgestoot is.

Die motorhuis het ook ’n motor en mnr. Janse van Rensburg sê dat die motor self afwaarts druk as dit oopforseer word.
Die boewe kon nie by die motorhuis inkom nie en niks word uit die motorhuis vermis nie.
Hy kon ook nie agterkom dat enige iets uit die erf gesteel is nie.
“Hulle het maar ’n kans gevat en gedop,” sê hy.
Hy vra inwoners om ag te slaan op sekuriteitsmaatskappye se waarskuwings dat inbrake toeneem.
“Ons moet seker ’n oplewing in misdaad te wagte wees, gelukkig was ons die keer gelukkig.”
•Ander inwoners in Dennesig het Sondagnag gehoor hoe word daar oor hulle mure gespring, vermoedelik deur dieselfde bende.
@middelburgobserver Thieves flee from wailing alarm after trying to break in at Dennesig residence. #Middelburg #crime #redhanded #CCTV #robbery
