Man onskuldig op klagte van nalatige bestuur
Jaco Bothma (40), die man wat deur die staat aangekla is vir nalatige en onbedagsame bestuur na 'n ongeluk in 2020, is vanmiddag onskuldig bevind.
Die ongeluk het in Junie 2020 op die Samora Machelstraatbrug plaasgevind.
Tydens die gebeure het ‘n Mercedes (wat Jaco Bothma bestuur het) gebots met ‘n Nissan NP200 bakkie, waarin Gustav Lubcker en Bianca Muller was. Die bakkie het op sy dak te lande gekom.

Jaco se Mercedes is weggeslinger en het langs die pad op die sypaadjie aan die silos se kant beland. ‘n Staalversperring het dwarsdeur die voertuig gedruk.
Hy is met die kake van lewe uit sy voertuig gesny en was so ernstig beseer dat hy etlike dae in die Life Midmed Hospitaal vir sy beserings behandel is.

Gustav en Bianca het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Jaco het vroeg hierdie jaar vir die eerste keer verskyn op die klagtes teen hom.
Die verhoor het in November begin en is vandag voortgesit.
Die staat het vier getuies geroep in die saak, waaronder die twee polisiemanne wat op die toneel was (waarvan een die ondersoekbeampte), asook Gustav en Bianca.
Bianca was vandag die laaste getuie wat vir die staat opgetree het, en het landdros Rametse Matlakale kort daarna ook uitspraak gelewer.
Hy het onder andere melding gemaak daarvan dat die persoon wat die saak ondersoek het, se sketse van die toneel wat gemaak is, verskil het.
“Mnr. Lubcker het getuig dat hy in die linkerbaan getref is, maar die polisie se skets het aangedui dat hy in die regterbaan getref is.”
Die polisie het twee sketse van die toneel ingegee, wat as bewysstukke gebruik is.
Die een skets is die aand van die ongeluk gemaak en die ander een op 5 Oktober 2022. Die landdros het gevra watter een die regte skets is, waartydens die polisielid aangedui het dat die een wat in 2022 gemaak is, die regte een is.
Wat vir die landdros kommerwekkend was, was dat die twee sketse verskil het en dat die polisielid die skets van 2022 gekies het bo die een van die aand van die ongeluk.
Hy het ook gesê dat alhoewel daar omstandigheidsgetuienis is wat wys dat daar wel ‘n ongeluk was, nie een van die getuies onteenseglik bewyse kon lewer dat mnr. Botha nalatig of onbedagsaam bestuur het nie.
Landdros Matlakale het hom onskuldig bevind op albei klagtes teen hom.
Mnr. Katlego Malaotse het aangekla vir die staat en adv. Gerhard Botha het opgetree vir die verdediging.
