News

Gholfsig stuk-vir-stuk weg gedra

Inwoners word al meer van basiese dienste ontneem deur diewe wat munisipale infrasruktuur stroop, en hulle gereeld sonder krag en water laat.

’n Dief, wat nou al as ’n “ou kalant” deur inwoners beskryf word is op videomateriaal gevang terwyl hy besig was om ’n watermeter in Totiusstraat te steel.

Me. Regina Dercksen vertel dat die voorval net na 18:00, kort nadat sy by haar huis vertrek het, plaasgevind.
“Ek weet vir ’n feit dat hierdie dief ons gesit en dophou het, en toe die meter gesteel het nadat ons gery het.”

Sy en haar man het 17:50 vertrek, waarna daar op CCTV-materiaal gesien kan word hoe die dief om 18:16 die meter afsteel.
Volgens me. Dercksen het haar buurman gesien hoe die verdagte vir 15 minute, oorkant die pad op die randsteen, gesit en wag het.

DA Raadslid, Elsie Vermooten sê dat die diefstal van watermeters ’n daaglikse probleem geword het.

“Die watermeters in Gholfsig word verskriklik gesteel, boonop kragkabels en selfs die staal strukture van ons stormwater dreine ook. Hulle is besig om die wyk leeg te dra.”

Rld. Vermooten het verduidelik dat sy verskeie klagtes ontvang het van inwoners oor die stormwater afvoere wat ingee, “die inwoners glo dis as gevolg van ’n gebrek aan onderhoud deur die munisipliteit, maar die diewe steel letterlik die deksels van ons stormwaterdreine af, wat dan veroorsaak dat die sementblokke platval.”

Sy het bygevoeg dat die munisipaliteit gelukkig spoedig reageer waneer ’n gesteelde watermeter gerapporteer word.

“Hulle is blitsvinnig om die meters te vervang, omdat soveel water gemors word deur die diefstalle.”

Water wat spuit nadat ’n watermeter gesteel was. FOTO: Elsie Vermooten.

Die probleem het egter so erg geraak dat die munisipaliteit die meters nou vervang met plastiese meters, en daar word veral in Cowen Ntulistraat nou oorgeskakel na die nuwe plastiese meters.

“Inwoners het laat weet dat die verdagte ’n ou kalant is wat gereeld solarligte steel. Hy slaap saans in die parkie.”

Rld. Vermooten voel egter dat daar ’n groot verskil is tussen wat hierdie diewe vir die watermeters kry, in vergelyking met hoeveel skade die diewe berokken, “dit is groot ongerief en onnodige uitgawes vir die munisipaliteit.”

Me. Dercksen voel dat inwoners self drasties sal moet ingryp om die probleem hok te slaan.

“Covid het baie mense seer gemaak. Baie mense het hulle werk verloor en nie almal kan die geld uithaal om aan te sluit by die GPF nie. Die munisipaliteit het ook hulle eie wetstoepassers. Hoeveel mense is nie aangestel en hoeveel bakkies is nie aangekoop daarvoor nie, en hoekom ry hulle nie rond nie? Maar as inwoners nie iets daaraan doen nie gaan hulle ons wegdra, en as die nie watermeters is nie dan is dit kragkabels!”.

 

@middelburgobserver

Thief walks from street to steal a water meter moments after homeowners leave. #crime #crimeSA #Middelburg #theft #sneaky #watermeter

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Back to top button