News

Tiener “verdrink” byna nadat sy in oop mangat val

Die tiener meisie het skaafwonde en kneusplekke opgedoen, nadat sy by ’n mangat ingeval het.

’n 19-jarige meisie het Vrydagaand in ’n oop mangat vol water geval.

Volgens die meisie se ma, Wilma du Rand, was haar dogter, Leichen, op pad na Mc Donald’s toe sy by die oop mangat ingeval het.
Die straat was stik donker, en Leichen kon nie die mangat, wat net om die draai van hulle woontelblok is, sien nie.

“Ons bly in die Middelburg Heights woonstelle, en Mc Donald’s is binne loop afstand van ons af,” het Wilma verduidelik.
Sy het bygevoeg dat die mangat al etlike dae oopstaan.

“My dogter het gedink sy gaan verdrink toe sy wegsak. Sy kon nie die bodem voel nie, en daar was ook nie ’n leer waar sy kon uitklim nie.”

Leichen het skaafwonde en kneusplekke aan haar rug en arms opgedoen, soos sy gespartel het om uit te klim.
Sy het ook ’n diep gat aan haar maarmerrie opgedoen.

Die wond aan Leichen se maarmerrie.

“As sy haar kop gestamp het of verdrink het, dan was sy dood sonder dat ek ooit geweet het! Ek sou gedink het sy is by Mc Donald’s!”

Na die voorval, het Wilma die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit in kennis gestel, wie op hulle beurt laat weet het dat die mangat aan Telkom behoort.
Volgens DA Raadslid, Sanmari Wait, is dit egter onduidelik wie presies verantwoordelik is vir die mangat.

Daar is telefonies deur Telkom aan die joernalis gesê dat die mangat aan Open Serve behoort, maar die nommer wat verskaf is bestaan nie.

“Dit is lewensgevaarlik! Die straat is bedrywig en baie woonstel inwoners loop tussen die woonstel en die winkelkompleks rond. As dit ’n kind was, was hulle dood!” het Wilma bygelas.

• Navraag is aan Open Serve gerig, maar daar is teen tyd van publikasie nog geen terugvoer ontvang nie.

Back to top button