Dié plaas wat deur die Lewe in Liefde organisasie begin is vir haweloses het letterlik van bykans niks, tot ’n miniatuur boerdery gegroei.
Judy van Deventer, wat aan die stuur van die Lewe in Liefde organisasie staan, sê sy is trots op elke persoon wat tans in die huis bly en help om hul plaas te laat groei.
Daar is tans nege inwoners in die huis wat elkeen sy eie projek en werkie op die plaas het.
“Ons het ’n groentetuin, varke, hoenders en boerbokke,” vertel Judy trots.

Hulle is al klaar besig om van hul groente en eiers te verkoop.
Die eiers, en besondere houtkruise, wat gemaak word deur Johan Fourie, is by die Lewe in Liefde winkel te koop.
Daar is sowat ’n jaar gelede op die plaas begin en was daar eers net ’n murasie waar die mense moes bly.
Die gemeenskap het nie teleurgestel nie en het die huis nou al ’n dak en vensters.

Alhoewel daar nie krag is nie, is daar egter lopende water en ’n “donkie” wat met hout gestook word, wat sorg dat hulle lekker warm kan bad.
Judy meld dat hulle egter altyd ’n tekort het aan nie-bederfbare voedsel en skoonmaakmiddels en hul fondse is tans ook boomskraap.

Sy sou graag vir elkeen van die nege inwoners (een vrou en agt mans) ’n Kersgeskenk wou gee, maar daar is eenvoudig nie fondse om so ’n uitgawe te dek nie.
Eenvoudige skenkings vir geskenkies sal waardeer word.
“Hulle het almal badkamerbenodigdhede nodig soos seep, tandepasta, waslappies, deodorant en sjampoe. As die gemeenskap saamstaan en elke persoon net vir een of twee skenk, sal hulle elkeen ’n geskenkpakkie kan kry.”
• Sakelui of persone wat enige bydraes (hetsy vir die boedery of vir die inwoners) wil lewer, kan Judy bel by 082 802 4803. Sy sê mense is ook welkom om haar te kontak om te gaan kyk hoe dit op die plaas lyk.
• Judy het goedgunstiglik ’n video beskikbaar gestel wat wys hoe dit op die plaas lyk.
@middelburgobserver Lewe in Liefde empowers homeless people with self-sustaining farming at the Koinonia Farm. #Middelburg #sustainablefarming #charity #shelterforhomeless
