News

Van skemerkelk na broekloos

Verbeel jou jy sit en geniet ’n skemerkelkie vanaf jou stoep met ’n uitsig oor Athlonedam en dan, skielik, staar jy vas in iemand wat hulle broek aftrek en reg voor jou ontlas.

Dit is die realiteit waarmee Martha du Preez en haar man naweek na naweek moet saamleef, soos “partytjiegangers” herhaaldelik die damoewer bemors.

Martha vertel dat dit ’n gereelde probleem geword het, en hoop dat die munisipaliteit drasties sal ingryp om te keer dat die spruit se water verder besmet word.
“Dit was nie altyd so erg gewees nie, maar onlangs het die besoekers in hulle hordes op die damoewer toegesak.”

Sy vertel dat sy nie ’n probleem het met mense wat die natuurskoon geniet nie, maar voel dat daar dringend ablusieblokke ingerig moet word om te keer dat mense hulleself so in die openbaar verlig.

“Omdat daar nie ablusieblokke is nie, ry hulle van die dam af na Tierbergstraat toe, waar beide mans en vroue hulle broeke aftrek en hulleself verlig.”
Sy het bygevoeg dat hulle nie net urineer nie, maar ook ontlas.

“Daar is ’n spruitjie wat verby ons huis loop, en hulle maak daarvan gebruik om hulle ding te doen.”

Sy vertel dat die mense in duur karre by Tierbergstraat opry, en met drankbottels in die hand uitklim, reg voor hulle huis. Party gaan nie eers by die bosse in nie.

Hulle gooi ook hulle drankbottels die hele wêreld vol, en op ’n gereelde basis gooi hulle die drankbottels met opset stukkend in die middel van die vier-rigting stop.

Volgens Martha het die munisipaliteit borde opgesit wat die ordonansies stipuleer, maar die besoekers steur hulle nie daaraan nie.
“Die bord sê byvoorbeeld dat mens nie daar mag vuur maak nie, en tog doen hulle dit nogsteeds.”

Intussen speel kinders ook nie meer in die parkies nie omdat die toerusting gevandaliseer is.

“Ek het altyd met my kleinkinders gaan stap in die veld langs Athlonedam, maar mens kan nie meer nie omdat die veld vol stukkende glasstukke is. Die munisipaliteit sal iets aan die saak moet doen.”

Back to top button