Verslaafdes ‘met sambokke geslaan en met kettings vasgemaak’
Verslaafdes “word met kettings vasgemaak en met sambokke geslaan as hulle ontsnap”, op ’n plaas in die omgewing.
’n Verslaafde man, wat (volgens hom) uit vrees dat hy weer gevang gaan word nie sy naam wil noem nie, het bewerings gemaak oor ’n “rehabilitasiesentrum”.
“Verslaafdes word soos slawe behandel!”
Hy het dit duidelik gestel dat dit nie die Oorwinnaars Halfweghuis vir mans is nie, maar ’n ander huis op ’n plaas in die Stoffberg omgewing waar verslaafdes mishandel word.
“Hulle families is maar te bly daar is ’n plek wat hulle inneem. Die man in beheer sê ook hy is ’n pastoor en kry skenkings by besighede vir die plek, maar ons het elke dag net buns gekry.”
Hy was aanvanklik baie bly om hulp te kry, aangesien hy al ’n geruime tyd op straat is.
Die eerste aand op die plaas, was vir hom baie aangenaam, want hy het gedink hy het uiteindelik ’n holte vir sy voet gevind.
Sy neef het die volgende dag vir hom al sy persoonlike besittings gebring en hy baie dankbaar saam met hom dat hy nou hulp vir sy verslawing gaan kry.
Dinge het egter binne die eerste paar dae verander.
Terwyl hy in die huis rondgeloop het, het hy gesien dat daar in een van die kamers mense met kettings vasgemaak is.
“Die mense se voete was met kettings aanmekaar vasgemaak. Daar is vir my gesê dit is van die mense wat probeer ontsnap het, wat in die kamer vasgemaak is. Daar is nie toiletgeriewe in daardie kamer nie en hulle moet saam ’n emmer gebruik!”
Wat hom die meeste gewalg het, is dat die emmer begin oorloop het. “Daar is iemand wat die emmer gaan leegmaak, maar hy doen dit op sy eie tyd. Nie wanneer dit nodig is nie!”
Dit was egter nie die einde nie.
Volgens hom is van die persone wat probeer ontsnap het, ook met sambokke geslaan as hulle langs die pad gekry is en teruggebring is na die huis. “Die ander verslaafdes kry dan sommer outoriteit om die ontsnaptes met die sambokke te slaan! Hulle is ook met tekkies geslaan.”
Die man was geskok toe hy gesien het hoe twee van die vroue wat daar was aan die bloei gegaan het nadat hulle met die sambokke geslaan is.
Hy het gemeld dat daar meer as een keer “onaardige geluide” uit een van die kamers gekom het as die sogenaamde pastoor met van die verslaafdes gewerk het.
“Die pastoor het soos ’n mediator opgetree tussen die verslaafdes en hul families as hulle hom gekontak het. Hy vir hulle vertel dat hy die demone uit die verslaafdes dryf!”
Die jong man het genoem dat die verslaafdes geen kontak het met die buitewêreld nie, aangesien geen selfone op die perseel toegelaat word nie.
Hy beweer dat hy ook gesien het dat die persone wat in beheer is by die huis vir van die heroïnverslaafdes Methadone gee. Hy weet nie of hulle enige mediese agtergrond het nie.
Boonop is daar nie lopende water in die huis nie en moes hulle uit ’n put gaan water skep.
Hy het die eerste geleentheid wat hy kon kry deur ’n leuen te vertel, uit die huis gevlug en agter bome langs die pad geskuil tot hy deur ’n vreemdeling langs die pad opgelaai en in Middelburg afgelaai is.
Hy het nog nie vir sy gesin laat weet dat hy weg geloop het vanaf die huis nie. “Ek is te bang hulle sal wil hê ek moet teruggaan! Daardie plek moet toegemaak word! ’n Mens werk nie so met ander mense nie! Maar wie gaan my glo? Hulle gaan net sê ek is ’n verslaafde.”
• Hy het verduidelik dat die huis drie slaapkamers, en ’n sit- en eetkamer het waar almal deurmekaar moet slaap. Een van dié drie kamers is die kamer waar die persone met kettings vasgemaak word, wat probeer ontsnap.
• Die bestaan en presiese ligging van die huis kan nog nie bevestig word nie. Persone wat meer inligting kan verskaf of sy bewerings kan staaf, kan ’n e-pos stuur aan Daleen Naude by daleen@mobserver.co.za.
