“Nie ons nie” sê Columbus na laataand ontploffing gemeenskap aan die gis het
’n Reuse ontploffing het inwoners Maandagaand kort na 22:00 uit die slaap geruk.
Elna Visser van Palmstraat sê die slag was so hard, sy wou onder haar bed wegkruip.
Die eerste boodskappe oor die ontploffing is om 22:16 op die Dagpatrollie WhatsAppgroep geplaas met die vraag: “Het iemand dit gehoor?”
Tientalle boodskappe daarna het bevestig dat ander inwoners, van veral Kanonkop, ook die oorverdowende slag gehoor het van Flamingo- tot Blesbokstraat.
Net in Sipreslaan het ’n inwoner laat weet dat niks gehoor is nie.
Die slag was egter genoeg om Arthur Hill en sy Dagpatrollie-span uit die beddens te kry en ondersoek te gaan instel.
Mnr. Hill sê dat hulle “die wêreld plat gery het op soek na die ontploffing.”
Niks kon egter gevind word nie.
Mnr. Hill sê in sulke gevalle word teenstrydige weergawes van gebeure gewoonlik gegee wat “baie verskil.”
Hy sê dat klank so versprei dat dit basies onmoontlik is gedurende die nag om te sê waar die klank sy oorsprong het.
“Dit is verbasend hoe inwoners se menings oor waar die klank, in dié geval ’n ontploffing, sy oorsprong gehad het, want die rigting waaruit inwoners beweer die klank gekom het, verskil soos die koördinate op ’n wêreldkaart,” verduidelik mnr. Hill.
Hy sê dit kan wees dat die ontploffing by ’n plek soos Columbus kon wees, soos iemand op die WhatsAppgroep voorgestel het.
Die tipe ontploffing gebeur gewoonlik waanneer warm metaal of ander hittebronne, ’n koue bron soos water tref.
Me. Zandile Mashaba, Columbus se kommunikasiebeampte, het tydens telefoniese navrae gesê dat “ontwrigtings” wel veroorsaak kan word met warm en koue bronne wat skielik ontmoet tydens die smeltingsproses.
Sy het egter gesê dat geen insidente tot nou toe aangemeld is van ’n ontploffing nie.
“Gewoonlik word dit dadelik gerapporteer,” sê me. Mashaba.
Sy het minute later teruggeskakel en bevestig dat nóg Columbus se veiligheidsdepartement, nóg die smeltery se sekuriteit enige ontploffings aangemeld het.
Myne in die area sal ook nie laataand skiet nie, weens veiligheidsredes.
“Ons soek nog na die oorsprong,” sê mnr. Hill.
