News

Paartjie beweer hulle was ook by ‘martelhuis’

Daar het al drie verskillende mense bevestig dat daar ongeruimdhede by 'n huis aangaan, wat as 'n 'rehabilitasiesentrum vir verslaafdes' bedryf word

Nog ‘n paartjie wat op ‘n tydstip aan dwelms verslaaf was, het bevestig dat daar ‘n huis is, waar verslaafdes met kettings vasgemaak word.

By monde van die vrou (wat anoniem wil bly), is vertel dat sy en haar man net een nag by die huis, wat deur sommige verslaafdes as ‘n ‘martelhuis’ gedoop is, kon uithou.

“Ons was net een aand daar en, dankie tog, nie langer nie.”

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2023/12/20/daar-is-n-martelhuis-vir-verslaafdes/

Sy het bevestig wat die eerste klaer aan die joernalis vertel het. Daar is geen krag of lopende water nie.

“Ek het gesien hoe die man wat homself ‘n pastoor noem, twee van die ouens slaan met plastiekstoele wat hy op hul gebreek het. Hy het ‘n sambok ook gehad.”

Sy onthou verder dat daar ‘n kamer is waar iemand toegesluit en vasgemaak was met kettings.

“Die man wat die pastoor genoem word, kom elke dag in en gee vir almal kos, dan ry hy weer. Die plek word dan basies gerun deur dwelmverslaafdes. Hy huisves eintlik ‘n klomp kriminele.”

Volgens haar weet sy hulle is bang vir hom, “omdat hy hul slaan met ‘n sambok as hul aanjaag.”

Sy beweer ook dat daar van die mense op die perseel die aand in hulle goed gegrou het.

“Ons was die aand omsingel deur agt van die ouens. Hulle wou hê ek moes kos maak, want dis hoekom ek daar was, maar my man het heeltyd probeer om my te beskerm.”

Sy meld dat daar “‘n ander ou oom daar was. Hulle het hom gedreig dat as hy sy mond oopmaak, dat hul hom gaan doodmaak en hom gechoke totdat hy flou geword het, omdat hy saam ons wou loop die volgende dag.”

Die vrou noem dat haar man ook geslaan is “en die pastoor het ons bitter mooi gevra om te bly, maar ons kon net nie onder daai omstandighede nie.”

‘n Man wat beweer hy is by die huis betrokke, het intussen gebel en die bewerings ontken.

 

Back to top button