News

Olifants smoor wyl hiasint-jagters wag vir tender

Honderde dooie visse het vakansiegangers langs die Olifantsrivier in rep en roer gehad gedurende Desember, met plaaslike hengelaars wat vrees dat die probleem na Loskopdam kan oorspoel, indien miljoene waterhiasinte die weg Limpopo toe vind.

Genadiglik is daar nog nie hiasinte in Loskopdam soos vroeërjare gedurende dieselfde tydperk opgemerk nie, sê senior Mpumalanga Parke en Teorisme ekoloog Jannie Coetzee.

“Soos elke jaar is ons gereed vir die invloei,” las Coetzee by “want meer reën word verwag.”

Die Nasionale Seereddingsinstituut moes dié Kersgety minstens 30 bote uit hiasintmatte op die Hartbeespoortdam red, nadat die bote se bootskroewe in die tapyt van hiasinte verstrengel geraak het, en plaaslike hengelaars vrees nou ’n soortgelyke ramp.

Miljoene van die indringer waterpes kan na Loskopdam afspoel indien Witbankdam se sluise oopgemaak word.

Die koerant is deur talle inwoners gekontak met waarskuwings van die hiasinte in die Olifantsrivier.

Die drywende waterplant wat akwatiese ekosisteme beroof van suurstof en sonlig, skiet duisende sade wat elk weer ’n moederplant vorm wat tot agt uitloopsels elk vorm.

By Loskopdam is al van tennisnette tot kabels gespan om die invloei van hiasinte na die dam te keer.
Mnr. Coetzee sê egter dat hulle bloot die plante sal verwyder sodat hulle op die oewers vrek.

Die huidige hiasint probleem is niks nuuts nie, en het gelei tot die totstandkoming van langtermyn vennoootskap tussen omgewingsake se Working on Water, en die plaaslike King Louis cc, ’n maatskappy wat op die been gebring is deur me. Clarissa du Plessis wat eiendom tussen Middelburg en eMalahleni op die oewer van die rivier besit.

Kilomax, ’n onkruidoder wat die plant steriel laat, is in die verlede effektief in die Olifantsrivier deur King Louis cc gebruik.
Hulle het ook ander indringerplante soos swartwattle bome op die rivieroewers uitgeroei.

Plaaslik kan hiasinte nie soos by Harties gebruik word vir kompos en bemestingaanvullings nie, weens die feit dat die plant skadelike metale absorbeer, wat deur mynaktiwiteite veroorsaak word. Hulle floreer ook in riool.

Sade kan boonop tot twee dekades lank dormant lê.

Die King Louis cc ooreenkoms het hiasinte oor ’n gebied van 82 hektaar, wat sowat 22km van die Olifantsrivier van die R555 brug tot by Olifants River Lodge beslaan, geteiken, en werk vir meer as 40 mense verskaf.

Omgewingsake het egter nog nie weer die tender met die maatskappy hernu nie.

“Ons het ’n tender ingesit en wag vir ’n antwoord van die departement,” het King Louis se Alma du Plessis Maandag gesê.

Intussen verwyder grondeienaars langs die Olifantsrivier maar die plante self om verdere visvrektes te verhoed.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button