‘Klein Boerie’ dalk in Langebaan sê Bolhuis-span
Die privaat ondersoek span glo dat Strydom, wat landwyd gesoek word vir beweerde bedrogklagtes, hom in Langebaan bevind.
Marthinus Pretorius “Klein Boerie” Strydom, die oud-inwoner van Middelburg wat landwyd gesoek word vir ’n string beweerde bedrogklagtes, woeker steeds onder die radar van die polisie en Mike Bolhuis se bekwame Specialised Security Services span wat waarsku dat hy steeds aanlyn is met verskeie vals profiele.
Senior ondersoeker van Bolhuis se SSS-span, Johan Prinsloo, het die week gesê dat Strydom hom moontlik, volgens ’n wenk uit die gemeenskap, in Langebaan bevind.
’n Nommer is ook aan Prinsloo verskaf, “maar bly onbeantwoord en Langebaan is groot,” sê Prinsloo.
Volgens Prinsloo is hulle warm op Strydom se spoor, wie klagtes in die gesig staar van Middelburg tot Linden in Gauteng en Redelinghuys in die Weskaap.
Plaaslik het Strydom die bekende Politis familie na bewering ingedoen met die koop van die dorp se legendariese Rembrandt Kafee, na die afsterwe van die Politis patriarg, en kafee eienaar Alec Politis, gedurende die Covid grendelstaat.
Strydom het na bewering die inhoud van die kafee, wat toerusting ingesluit het, van die hand gesit en ook steeds nuwe aflewerings aanvaar sonder om te betaal.
Die treurende Politis familie moes eindelaaste die rekeninge vereffen.
Na sy verdwyning uit Middelburg het Strydom na bewering talle slagoffers genader met beloftes van diesel teen ’n winskoop.
Die diesel is deur slagoffers betaal, maar die aflewerings is nooit gedoen nie.
’n Lid van die Politis familie het aan die koerant gesê dat Strydom in net vryf weke, verwoes het wat oor 37-jaar opgebou is.
Die kafee was veral ’n oase vir HTS Middelburg se kinders, veral die koshuiskinders wat Rembrandt Kafee se diepbraaiers vir slaptjips aan die gang gehou het.
Mnr. Politis is in Januarie 2021 midde in die Covid-pandemie oorlede.
Prinsloo vra steeds dat inwoners met inligting oor waar Strydom hom presies bevind, hom sal skakel by 072 869 2504.
Lees ook: Former resident facing arrest in nationwide fraud and theft probes
