News

Veediewe bind mans met kettings aan beddens vas, teiken kallers, koeie

Twee mans is met toue vasgebind en hul voete aan beddens vasgeketting, toe veediewe op ’n plaas toegeslaan het.

Boere van die omgewing is dit almal eens dat veediefstal sedert die aanvang van Desember, hand uitgeruk het, nadat die veeplaas van boer Callie Meyer op die Stoffbergpad Donderdagmore weer onder skoot gekom het.

Sedert Oktober verlede jaar is agt beeste reeds op mnr. Meyer se plaas gesteel, wat nie diefstalle by buurplase rondom sy boerdery insluit nie.

“Ons loop geweldig deur,” het hy vanmore na die voorval op sy plaas aan die Middelburg Observer gesê.

Hy is Woensdagaand omstreeks 23:00 deur ’n buurman, wat patrollie gery het, laat weet van ’n bakkie wat langs sy plaasheinings op die Stoffbergpad staan.

Mnr. Meyer is self uit maar met sy aankoms by die weiveld was die bakkie weg.
Hulle het toe inspeksie op die plaas gedoen waar hulle op geknipte drade afgekom het.

By ’n kamp op die plaas was drie kallers reeds vasgebind.
Daar was ook drie koeie in die drukgang van die kamp.

Mnr. Meyer het die kallers losgemaak en die koeie uit die drukgang gejaag.
Verdere ondersoek kon geen verdagtes oplewer nie.

Die geselskap is toe na ’n stat naby die kamp waar hulle twee mans gevind het wat aan hul beddens vasgemaak was.
Hulle hande is met toue vasgebind terwyl hulle aan hul voete aan die beddens vasgeketting was.

Die mans het vir mnr. Meyer vertel dat een van die veediewe by hulle gewaak het, terwyl hul makkers die kallers en koeie geteiken het.

Met mnr. Meyer se aankoms op die plaas was die verdagte steeds by die mans, het hulle gesê.
Die veediewe het egter met mnr. Meyer se aankoms gevlug en geen spoor kon gevind word nie.

Die buurman wat mnr. Meyer van die bakkie in kennis gestel het, het dieselfde voertuig later by ’n huis langs die Elandslaagtepad opgemerk en mnr. Meyer laat weet.
Hulle is uit na die huis toe en die polisie is ontbied.

Terwyl daar op die polisie gewag is, het die verdagte talle oproepe op sy selfoon gemaak.
Met die aankoms van die polisie het die verdagte egter al sy foon kontakte uitgewis.

Mnr. Meyer sê die man beweer hy het bloot duimgooiers ’n rygeleentheid gebied, en betrokkenheid by die veediefstalpoging ontken.

Hy is gearresteer en was volgens mnr. Meyer Donderdag nog steeds in aanhouding vir ondervraging.
Sy bakkie is ook deur die polisie geskut.

CCTV kameras op die roete word nou nagegaan om te bepaal of die bakkie met enige ander veediefstalle verbind kan word.

“Daar is beslis ’n toename in veediefstalle,” waarsku mnr. Meyer.

Hy bedank alle betrokkenes, veral die polisie, vir hul flink optrede.

“Die polisie was tot na 05:00 Donderdagmore nog besig met hul ondersoek, ons bedank hulle vir die deeglike werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button