Na die dood van bekende professionele tennisafrigter Charl Basson, van Middelburg, het dit nou bekend geword dat die bestuurder opleiding en onderwys van die Blou Bulle Rugby-unie, Hennie Janse van Vuuren (56), sy eie lewe geneem het.
Nog ’n inwoner van Middelburg is die afgelope week dood gekry, nadat hy hom in die Gholfsig woonbuurt in sy motorhuis opgehang het. Sy familie wou nie enige inligting bekend maak nie.
Van Vuuren is ’n oudleerling van Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal en is op 22 Desember 2023 oorlede.
Ná hy sy skoolloopbaan voltooi het, het hy sy diploma by die Onderwyskollege in Pretoria voltooi en later sy B.Ed Honneursgraad by die Universiteit van Pretoria.
Hy het skoolgehou by Laerskool Hennopspark, was hoof van die departement by Laerskool Elarduspark, adjunkhoof by Laerskool Rooihuiskraal en later adjunkhoof by Laerskool Warmbad.
Ten tye van sy dood was hy die Blou Bulle Rugbyunie bestuurder van afrigting, opleiding, talentidentifisering en ontwikkeling. Hy is sedert 2014 betrokke by die Blou Bulle Rugbyunie.
Tydens sy tydperk as onderwyser en rugbyafrigter by Laerskool Hennopspark, het hy paaie gekruis met dr. Eugene Hare, toe ‘n skoolhoof.
Toe dr. Hare later betrokke geraak het by die Blou Bulle Rugbyunie, het daar ‘n pos oopgegaan as opleiding en onderwys bestuurder by die Blou Bulle Rugbyunie. Mnr. Van Vuuren het aansoek gedoen, die pos gekry en weer paaie gekruis en later onder dr. Hare gewerk, wat ook in diens is van die Blou Bulle Rugbyunie.
Hy het self van kleins af rugby gespeel en van sy prestasies was om in die Suidoos-Transvaal o/13 laerskool provinsiale span in 1979 te speel, vir Suidoos-Transvaal o/18 sekondêre skool provinsiale span in 1984, Transvaalse onderwyserkolleges-span senior in 1988, o/20 Noord-Transvaal provinsiale span in 1987, Suidwestelike Distrikte uitnodigingspan in 1989 en Noord-Transvaal senior B-span vanaf 1991 tot 1993.
Sy afrigting ondervinding sluit in SA rugby mobiele kliniek, Blou Bulle sentrum van uitnemendheid afrigting, Blou Bulle internasionale afrigtinskonferensie, Limpopo Blou Bulle afrigting simposium, Boksmart onderwyser, wêreldrugby-opvoeder en wêreldrugby-afrigter, wêreldrugby Get into Rugby, wêreldrugby-afrigter 15man en sewes vlak 1 en 2, wêreldrugby-afrigter se krag en kondisionering vlak 1 en 2, wêreldrugby-afrigting van wedstrydbeamptes vlak 1 en 2 en Boksmart SA Rugby veiligheidsprogram.
•Sy roudiens het op 5 Januarie plaasgevind vanuit die NG Kerk in Elarduspark.
