Man breek Wendyhuis by besigheid oop vir fiets
Foto's wys hoe 'n dief 'n Wendyhuis oopbreek, 'n fiets steel en daarmee wegry.
‘n Oorlamse dief het doodluiters tussen besighede deurgestap na ‘n Wendyhuis, dit oopgebreek en ‘n fiets gesteel.
Daarna het hy ‘n kragkabel wat lei na die kragopwekker afgesny en die stuk van die kabel gevat.
Mnr. Justin van Rooyen sê die oomblik toe hy die kragkabel sny, het dit die krag uitgeskop en die alarm laat afgaan. Die booswig het egter weggekom met die fiets en kabel.
Die voorval het Saterdagmiddag net na 12:00 gebeur in Newtonstraat.
Mnr. Van Rooyen meld dat alhoewel daar niemand by sy besigheid was nie, is daar verskeie ander besighede op die perseel wat wel oop was.
“Hy het tussen almal deurgestap asof hy die eienaar is, direk na die Wendyhuis geloop, waar hy die Wendyhuis oopgebreek, die fiets en kabel gevat en wegggery het.”
Die booswig het ‘n pers rugsak met grys insetsels by hom gehad.
Mnr. Van Rooyen vra dat as enigiemand die persoon en sy rugsak herken, om hulle te bel by 013 813 1555 of stuur ‘n WhatsApp na 066 234 6115 of 082 772 1268.