Sy droom was huisie by die see…toe sterf omgeeman skielik
Johan Grundlingh (39), die man wat homself te na sou kom om ander te help, is Vrydagmiddag in die Middelburg Hospitaal oorlede.
Sy vrou, Julie, sê met sy opname al is daar vir hulle gesê hy is kritiek, want sy longe het platgeval.
Johan is Donderdag nog werk toe waar hy ’n verkoopsverteenwoordiger was by Transerve Filtration.
Hy het deur die dag al begin sleg voel.
Die aand was hy baie siek en het gesukkel om asem te kry, waarna sy hom na die Life Midmed Hospitaal toe geneem het waar hy gestabiliseer en oorgeplaas is na die Middelburg Hospitaal.
Johan is dadelik in die intensiewe eenheid opgeneem waar hy omo 17:15 die volgende dag oorlede is.
Julie vertel dat Johan twee jaar gelede tuberkulose opgedoen het en ook baie siek was. Hulle was baie dankbaar toe hy gesond geword het.
Sy onthou met ’n glimlag dat hulle Desember Uvongo toe was hy vir haar gesê het dat hy binne die volgende paar jaar wil aftree en vir hulle ’n blyplek daar koop.
Die egpaar was vyf jaar saam en twee en ’n half jaar getroud. Johan sou op 2 Februarie sy 40ste verjaardag gevier het en in April sou hulle hul derde huweliksherdenking gevier het.
Sy het haar man beskryf as ’n persoon wat altyd die ekstra myl sou loop om ander te help.
“Hy was baie lief vir sy familie en sport was sy lewe, veral krieket.”
Johan word oorleef deur Julie, kinders Lize-Mari, Logan en Zitiaan, ma Martie en susters Hielda le Roux en Ansie van Niekerk.
Die begrafnis is Woensdag om 12:00 uit die Corpus Christi-gemeente. Die diens word waargeneem deur past. Danie de Kock.
• Die gesin wil graag die volgende persone en instansies bedank vir hul hulp, asook ondersteuning in hierdie tyd: Die Life Midmed- en Middelburg Hospitaal, past. De Kock, Johan se kollegas by Transerve Filtration, Julie se kollegas by Steelcrest High School, Hoërskool Kanonkop se personeel en leerlinge (waar die kinders skoolgaan), Martin’s Funeral Service, familie en vriende.